SABRINA DEAN – Johan Schuster, broer van die bekende Suid-Afrikaanse komediant en akteur, Leon Schuster, is nou in ‘n stabiele toestand in Mediclinic Bloemfontein nadat hy die naweek ‘n hartaanval gehad het.
Hospitaal-woordvoerder, Amanda Appelgryn, sê Schuster is Vrydag opgeneem vir toetse deur ‘n spesialis. Hy het Saterdag terwyl hy in die hospitaal was ‘n massiewe hartaanval gehad. “Hy is oorgeplaas na die kardiologie-intensiewesorgeenheid en die kardioloog het hom ook geneem vir ‘n angiogram,” sê sy.
Appelgryn het vanoggend bevestig Schuster is tans in ‘n stabiele toestand in die kardiologie-intensiewesorgeenheid.
Sy sê alhoewel daar baie streng besoekersreëls toegepas word is Schuster se vriende en naasbestaandes daar om hom te ondersteun.