Die langverwagte buiging van die Toyota Cheetahs se aanwins Faf de Klerk vir sy nuwe span is vir eers op die ys. Dit is onseker wanneer die tweemalige Rugbywêreldbeker-kampioen vir die eerste keer die oranje trui oor sy kop sal trek.
De Klerk is ’n paar maande gelede deur die Cheetahs gekontrakteer, en ondersteuners het gehoop om hom reeds in die Toyota-uitdaagreeks in aksie te sien.
Die plan was egter nie dat hy in aksie sou wees in die kompetisie, wat Vrydag afgeskop het nie. Die meer realistiese verwagting was dat hy in die Curriebekerreeks sy debuut vir die sewemalige kampioene sou maak.
Selfs dit kan egter vertraag word. De Klerk is na Johannesburg opgeroep as deel van die Springbok-groep ter voorbereiding van die internasionale seisoen wat volgende maand begin, en het hom reeds by die nasionale span aangesluit.
Die Springbokke beleef tans ’n beseringskrisis onder skrumskakels en verskeie spelers is op die krukkelys. Dit sluit in die Bloemfontein-seun Cobus Reinach van die Stormers en die Lions se Morné van den Berg.
Gevolglik moet die Cheetahs staatmaak op die diepte in eie geledere. Gelukkig speel Rewan Kruger van die beste rugby in geruime tyd, terwyl die Junior Springbok Erich Visser Woensdagaand gereed was om sy senior buiging vir die span te maak.
Die afrigter, Frans Steyn, het aan Bloemfontein Courant gesê hy is verheug om te sien die voormalige Junior Springbok Kruger is weer op sy beste.
“Ek dink hy bekommer hom dalk net te veel oor wat Ruan (Pienaar) van hom dink – mens weet nooit,” het Steyn laggend gesê.
“Maar hy is goed op dreef en ’n baie waardevolle speler in die span. Sy ervaring kom ook na vore in die manier waarop hy die ander ouens help, so ek is baie tevrede met waar Rewan op die oomblik is.”
Visser, wat nog baie rou op senior vlak is, maar tydens die Varsitybeker vir die UV Shimlas uitgeblink het, het aan Bloemfontein Courant gesê hy kon hom in geen beter omgewing bevind om as jong skrumskakel te ontwikkel nie.
Met spelers soos Kruger, Marco Jansen van Vuren en die hulpafrigter Pienaar om van te leer, en De Klerk wat later vanjaar by die groep sal aansluit, glo Visser hy is omring deur van die beste mentors moontlik.
“Danksy al die senior spelers om my soos Rewan en Marco, en afrigter Ruan, dink ek ek is in ’n goeie posisie hier by die Cheetahs om te leer en al die inligting en kennis wat hulle van die spel het, in te neem.
“Dit is ’n groot voorreg om omring te word deur ’n paar nommerneges van gehalte. Veral met Faf wat nou ook by die Cheetahs aansluit, dink ek as jong speler dit bied my ’n groot geleentheid om by hom te leer. Dit is regtig ’n baie goeie plek om op die oomblik as jong skrumskakel te wees.”
De Klerk het reeds ’n keer of wat tydens Cheetahs-oefensessies hier en daar gehelp en van sy waardevolle kennis met die spelers gedeel, maar vir nou is sy fokus op die Wêreldkampioene. – MORGAN PIEK







