Die gesoute Springbok-skrumskakel Faf de Klerk sal Sondag sy langverwagte Toyota Cheetahs-buiging maak wanneer die span die Lions in die eerste ronde van die 2026 Curriebeker in Bloemfontein pak.
De Klerk sal teen sy voormalige span uitdraf in ‘n moet-wen kragmeting vir die Blikore teen verlede jaar se naaswenners.
Die 34-jarige skrumskakel bring ‘n magdom ervaring na die Vrystaat nadat hy meer as 60 toetse vir die Springbokke gespeel het. Hy het die afgelope bykans tien jaar sy rugby in Engeland en Japan gespeel.
Vir De Klerk is dit ‘n besonderse geleentheid om sy eerste wedstryd vir die Cheetahs juis teen die Lions te speel. Ironies genoeg was sy eerste wedstryd vir die Lions in 2014 teen die Vrystaat, wat die oomblik des te meer spesiaal maak.
De Klerk het aan Bloemfontein Courant gesê hy sien uit na die geleentheid, en dit is ekstra betekenisvol om sy debuut teen sy voormalige span te maak.
“Dit is spesiaal – ek het dit al baie gesê, maar dit is wonderlik om terug te wees en ek is baie opgewonde om weer tuis te wees.”
“Ons is mal oor Bloemfontein en die Cheetahs. My ouers het my vertel my eerste wedstryd teen die Cheetahs was toe ek nog by die Lions was, en nou gaan my eerste wedstryd vir die Cheetahs teen die Lions wees. Dit is nogal ‘cool’ hoe alles nou vol sirkel gekom het. Ek is regtig opgewonde om in te spring en te sien wat ons kan regkry.”
De Klerk het bygevoeg dit is vir hom belangrik om alles vir sy nuwe span te gee en sy ervaring, veral met jonger spelers, te deel. “Ek het nog nie regtig te veel daaroor gedink nie, maar ek het nog altyd geglo dat as jy iemand kan help, dit beter vir die span sal wees.
“As jy dinge vir jouself hou en net self goed wil doen, kan dit ‘n negatiewe uitwerking op die res van die ouens hê. As ek iets sien wat hulle kan help, of hulle sien iets wat my kan help, dan is dit fantasties. As ons ‘n omgewing kan skep waar ons mekaar opbou, eerder as om dinge vir onsself te hou, is dit die belangrikste.
“As ek op enige manier kan help, of daar iewers afgerig moet word, sal ek dit 100% doen. Dit is nie iets waarna ek op hierdie stadium regtig mik nie, maar ek sal beslis betrokke bly en help waar ek kan.”
Sondag se Curriebeker-kragmeting tussen die Cheetahs en die Lions by die Toyota-stadion skop om 13:00 af.
Cheetahs – 15 Clayton Blommetjies, 14 Cohen Jasper, 13 Munier Hartzenberg, 12 Zander du Plessis, 11 Michael Annies, 10 Jaco van der Walt, 9 Faf de Klerk, 8 Neels Volschenk (captain), 7 Juan Venter, 6 Ramon Uys, 5 Victor Sekekete, 4 Carl Wegner, 3 Aranos Coetzee, 2 Marko Janse van Rensburg, 1 Tielman Nieuwoudt
Plaasvervangers – 16 Juan Smal, 17 Dux Manyama, 18 Frankie Dos Reis, 19 Simon Miller, 20 Daniel Maartens, 21 Rewan Kruger, 22 Ethan Wentzel, 23 Prince Nkabinde – MORGAN PIEK







