Chantell Hewitt moes vir die grootste deel van haar lewe uitdagings trotseer wat baie mense hulle nooit sou kon voorstel nie. Dié Bloemfonteinse entrepreneur, dansonderwyser en motiveringspreker is as baba met neurofibromatose gediagnoseer.
Sy het deur die jare talle operasies en mediese prosedures ondergaan, en moes boonop leer om met starende mense saam te leef. Haar grootste stryd was egter dié wat mense nie raaksien nie. Tog, wanneer jy haar ontmoet, is dit nie haar toestand wat jou opval nie, maar haar warmte, geloof en onwrikbare vertroue in die potensiaal van ander mense.
As die eienaar van die Chantell Hewitt Academy of Dance help Hewitt jong mense om hul selfvertroue deur beweging te bou. Haar ateljee is ’n plek waar dansers van so jonk as 17 maande tot volwassenes wat steeds daarvan hou om te beweeg veel meer as net choreografie leer.
“Dans het my veilige plek geword. Dit het my selfvertroue gegee toe ek baie min daarvan gehad het en my toegelaat om emosies uit te druk waarvoor ek nie altyd woorde gehad het nie.” Hewitt was vir jare bekommerd oor wat ander van haar voorkoms dink. Sy het egter ’n keerpunt bereik toe sy 18 jaar oud was. Deur geloof, gebed en selfaanvaarding het sy besluit om nie langer haar toestand en ander mense se menings toe te laat om haar waarde te bepaal nie. “Die pad was nie altyd maklik nie. Daar was teleurstellings, terugslae en oomblikke wanneer ek gewonder het of ek goed genoeg is.”
Vandag vorm daardie les die grondslag van alles wat sy doen. Vandag wil sy mense daaraan herinner dat hul omstandighede nie hul toekoems bepaal nie, hetsy deur dans, motiveringspraatjies of haar onderneming, Beyond Limits Foods. “Ek wil hê mense moet weet hulle hoef nie te verander wie hulle is om aanvaar te word nie. Jou uitdagings maak jou nie minder waardevol nie. Dit is deel van die verhaal wat eendag vir iemand anders hoop kan gee.”
Hewitt beskou nie haar lewe as een wat deur struikelblokke beperk word nie, maar eerder as ’n reis wat deur haar positiwiteit gevorm word. Terwyl sy voortgaan om die mense om haar te inspireer, is haar grootste prestasie nie die ondernemings wat sy opgebou het of die kwalifikasies wat sy verwerf het nie, maar die lewens wat sy langs die pad aanraak.
Sy droom ook daarvan om haar verhaal op groter platforms te deel, ’n boek vol hoop en bemoediging te skryf en mense aan te hou inspireer om verby hul omstandighede te kyk.
“As iemand deur my verhaal weer die moed vind om in hom- of haarself te glo sal ek weet dat ek ’n doelgerigte lewe geleef het.”







