Nog ‘n verdagte vas in verband met Bothaville-plaasaanval

0
1642
‘n Tweede verdagte, wat deel was van ‘n groep van vier mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het tydens ‘n gewapende roof op ‘n plaas by Bothaville in die Vrystaat meer as ‘n week gelede, is gister in Klerksdorp in Noordwes in hegtenis geneem.

Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê die 36-jarige man was in besit van ‘n wit Nissan-bakkie wat gebruik is toe vier mans met polisiepette en -hemde toegang tot ‘n plaashuis verkry het. Hulle het aan die plaaseienaar gesê hulle wil haar huis vir dwelms deursoek. ‘n Verdagte, Paballo Molaudi, is kort ná dié voorval by Orkney in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Donderdag aansoek om borgtog doen.

Thakeng sê die verdagte wat gister aangekeer is, sal môre in die hof verskyn. ‘n Vyfde verdagte, vermoedelik ‘n plaaswerker op dié plaas, is intussen vrygelaat nadat hy deur die polisie vir ondervraging aangehou is.

Intussen doen die polisie ‘n beroep op gemeenskappe om inligting te verskaf oor ‘n afsonderlike voorval in Maart in Welkom waarin twee mans, wat hulle ook as polisiebeamptes voorgedoen het, twee mynwerkers van R9000 beroof het. Thakeng sê die mynwerkers was onderweg na hul werk, toe ‘n wit Polo hul motor agtervolg het.

Die booswigte het tot langs die werkers se motor gery en aangedui dat hulle van die pad moet aftrek. Die mans het polisiewapens getoon. Hulle het aan die werkers gesê die “polisie” het inligting ontvang dat dié twee betrokke was by ‘n diefstalvoorval by ‘n myn. Hulle het die slagoffers se motor deursoek en R9000 in die mans se besit gevind. Thakeng sê die sogenaamde polisiebeamptes het die mynwerkers beveel om hulle te volg na die naaste polisiekantoor, waarna die booswigte weggejaag het. Die werkers het toe besef hulle is beroof.

Thakeng vra enigiemand met inligting in verband met albei voorvalle om hul naaste polisiekantoor te bel.

Intussen is die twee mans wat gesoek word in verband met die Welkom-rooftog se identiteitsprofiele bekend gestel. Een van die verdagtes is bykans 1,8 meter lank en is vermoedelik tussen die ouderdom van 35 en 40. Hy was in die besit van ‘n swart handgeweer. Die tweede verdagte is ook bykans 1,8 meter lank, hy het ‘n donker velkleur en is tussen die ouderdom van 40 en 45. Albei mans het Sesotho gepraat. Thakeng het nog nie bevestig of polisiebeamptes by die aanval op die drie vroue en twee kinders op die Bothaville-plaas betrokke was nie. Hy sê die ondersoek is steeds té sensitief. – Christal-Lize Muller

image0967