Die jaarlikse Vrystaat Kunstefees skop oor minder as ‘n maand af en Bloemfonteiners kan vanjaar weer ‘n propvol program verwag.
“Die Vrystaat Kunstefees het ‘n omvattende program met van die beste toneel, musiek, visuele kuns, rolprente, performance-kuns, lewende kuns, eksperimentele kuns, kunsvlyt en koskuns in die land – dikwels in samewerking met internasionale vennote,” het dr. Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees, gesê.
Vanjaar word dinge bietjie anders gedoen aangesien die program reeds op 8 Julie begin, maar die kunsmark eers op 10 Julie.

Daar kan ook weer uitgesien word na kuns, honderde kosstalletjies, verskeie teaterproduksies vir oud en jonk, kosaanbiedinge en musiek.
Vir musiekliefhebbers gaan kunstenaars soos Kurt Darren, Amanda Strydom, Dozi, Refentste, Karen Zoid en The Parlotones die feesgangers by verskillende plekke soos die Kopanong-ouditorium, Aasvoëlklub en die Sand du Plessis-teater vermaak.
Diegene wat ‘n teaterproduksie geniet, kan gerus vir Antoinette Kellerman in Hierdie Lewe gaan kyk. As jy wil skaterlag, gaan kyk gerus na 3 Susters met Lizz Meiring, Nicole Holm en Margit Meyer-Rödenbeck op die verhoog. Wicus van der Merwe en Margit Meyer-Rödenbeck sal ook die trane laat loop in hul produksie, Dowwe Wicus & Dolla van der Merwe. Marion Holm sal te sien wees in Operasie Holm!
Vir die kleintjies gaan Hans Haas uit Hartenbos kom kuier en Lollos en Lettie gaan ook ‘n draai maak.

Vir ietsie anders sal daar ook ‘n filmfees plaasvind, die Lekker Bekkers se Pop-up Restaurant is oop in hul gastehuis en Vrynge sal vanjaar vir die derde keer plaasvind.
“Vrynge het gegroei tot ‘n belangrike vlagdraer in die rol van die uitvoerende kunste. Binne slegs drie jaar het die Vrynge se gehoor aansienlik toegeneem en ‘n beduidende platform geskep vir plaaslike en nasionale kunstenaars om hul uitsonderlike talent saam met internasionale eweknieë te vertoon” het Michael Garbett, Vrynge-koördineerder gesê.
Die Rosestad verwelkom ook vanjaar weer ‘n paar internasionale gaste. “Benewens begaafde kunstenaars is meer as 40 internasionale skrywers, digters en kultuurpraktisyns by ons feesprogram betrokke. Hulle kom van so ver as Australië, België, Botswana, Kanada, Ghana, Nederland, Nigerië, Namibië, Lesotho, Senegal, Singapoer, Swaziland, Zimbabwe, Uganda, Brittanje en die VSA” het Peach vertel.

Kom kuier op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat van 8 –14 Julie en van 10 – 14 Julie vir die kunsmark. Kry vir jou ‘n lekker roosterkoek, ‘n koppie boeretroos en geniet die stalletjies tydens vanjaar se kunstefees.
Vir meer inligting of vir die volledige program, besoek www.vrystaatkunstefees.co.za.
JERETHA OOSTHUIZEN
[email protected]







