E Copy

Date:

‘Hans Haas’ as boek se tema steeds liefde

Ná jare waarin Hans Haas gehore op die verhoog vermaak het, kry die geliefde karakter nou ’n nuwe lewe as ’n geïllustreerde boek. Vir die skrywer en eienaar van The Rabbit Theatre School, aleXander Steyn (44), was dit ’n projek wat vier jaar geneem het om te voltooi.

Die idee het ontstaan nadat sy ma hom aangemoedig het om die storie, wat al jare lank deel van die Vrystaatse Kunstefees is, op papier vas te lê.

“Ek het baie lank gesit met die idee en gedink ek wil, maar die storie moet dan universeel wees en nie net ’n storie oor ’n haas nie, maar lewenslesse waarmee elke kind en ouer kan vereenselwig.”

Die boek is nie ’n hervertelling van die verhoogproduksie nie, maar vertel eerder hoe Hans Haas en sy vriende mekaar die heel eerste keer ontmoet het.

“Hans begin heeltemal alleen op hierdie reis na Haaslaagte. Op die pad ontmoet hy vir Piet Padda, Paulina Papegaai, Morrie Meerkat, Grietjie Gans en Bob Bobbejaan. Hans is dan die gom wat almal saamnooi en bymekaar hou.”

In die boek is die diere klein, kwesbaar en natuurlik uitgebeeld, eerder as die bekende verhoogkarakters met kostuums.

Om die illustrasies te skep was volgens hom een van die grootste uitdagings. Hy het eers met pen, potlood en waterverf gewerk voordat hy die illustrasies digitaal op ’n iPad voltooi het.

“Ek het als met die hand geteken. Eers baie gefaal en oorbegin … Dit was ’n uiterse lang proses.”

Vir hom bly die boodskap van die verhaal dieselfde as in sy verhoogproduksies.

“Die grootste tema in my boek wat korreleer met die verhoogstukke is definitief liefde! Wees lief vir jou naaste! Wees die liggie in die wêreld wat donker is.”

Hy glo die boek sal nie net tot kinders spreek nie.

“Dis ook glad nie net ’n kinderboek nie. Volwassenes sal ook die storie en visuele kuns op papier geniet en waardeer, hoop ek.”

Hy hoop die boek sal sy pad vind na huise, skole, kerke en boekwinkels.

“Ek noem dit my stukkie kuns. Sestig bladsye van myself gegee om te inspireer en te leer. Mag die boek almal inspireer.”

Die boekbekendstelling is 9 Julie om 17:30, 10 Julie om 17:30 en 11 Julie om 13:30.

Ingang is gratis by The Rabbit Theatre School, 20 Jock Meiringstraat. Skakel 061 203 8589 vir meer inligting.

Gypseenia Lion
[email protected]

Share post:

Popular

More like this
Related

Event to unite Bfn community for a greater cause

Sport, community spirit and compassion will come together in...

Mangaung Municipality cracks down on illegal adverts

In an effort to curb the widespread problem of...

FCS urged abuse reporting, support services

Brigadier Herna Els, provincial head of the Family violence,...

Pencil In: 2 July 2026

Dates to pencil in this week... 2 July: Kids are...