Storiesmous – 7 April 2016

0
981

“Banke sal nooit weer dieselfde wees nie.” Met hierdie woorde het Jan S. Marais vyf dekades gelede die konserwatiewe banksektor in Suid-Afrika stormgeloop en tot in sy fondamente geskud. Trustbank was nie net bekend vir die rooi tapyte, swart toonbanke en geel mure nie. Dit was ook die bank waar die mooiste meisies met die laagste halse en die kortste rokkies gewerk het.
My pa was ‘n Volkskas-bestuurder. Hy het met groot trots vertel hoedat hy in die 1940’s uit sy pos by die Nederlandse Bank bedank het om vir ‘n veel kleiner salaris by “Oom Bossie se Bank” te gaan werk. Vir die “saak”. Volkskas was alles. So ondenkbaar soos dit vir my susters was om met ouens uit te gaan wat nie Afrikaans of in die NG Kerk was nie, net so ondenkbaar was die gedagte aan ‘n kêrel wat nie ‘n Volkskas-kliënt is nie.
Die koms van Trustbank is vanselfsprekend nie goed in ons huis ontvang nie. Ek was nog klein, maar ek onthou hoe driftig my pa was as hy oor díe nuwe bank gepraat het. Hulle het alles verteenwoordig wat hy verafsku het. Hy, wat hoofouderling was, het Jan S. Marais met ‘n onbybelse passie gehaat.
Dit was ander tye. Menige dame op sy personeel is huis toe gestuur om roksome te gaan langer maak. My oudste sussie het ook ‘n rukkie onder my pa gewerk. Hy’t haar een oggend summier uit die bank gejaag om haar grimering te gaan afwas. “Dis Volkskas die, nie Trustbank nie!”
En behoede jou as jy by die Jode of Indiërs of Engelse iets gaan koop het. Maar die Griek, Costas, se kafee in Kerkstraat was geen probleem nie. “Hy’s ‘n Volkskas-kliënt!”
Al díe herinneringe kom terug toe ek Pa se portrette van die plaas af moet wegry. Die Volkskas-embleem – die handploeg met die leuse Arbeidsaamheid onderaan – was ‘n geskenk, ‘n pragtige kunswerk wat met verskillende kleure sade gevorm is.
Ek onthou hoe pa uit sy maag gelag het toe Trustbank tot niet is en ‘n kollega droogweg opgemerk het: “Banke sal nou weer dieselfde wees.”