As ‘n mens begin praat van enorme verhoogproduksies soos Skouspel, Afrikaans is Groot en Mej. Suid-Afrika, weet jy ons praat hier van ‘n musikale belewenis waar alles in die stryd gewerp word om die teaterganger ‘n ervaring enig in sy soort te bied.
Die man agter hierdie en talle ander produksies is Willie Venter, ‘n gerekende choreograaf, regisseur en danser. Venter is ook vir die afgelope 12 jaar die choreograaf en regisseur van die Bloemfontein Kinderkoor en deur sy betrokkenheid by die Rosestad het hy mettertyd die plaaslike talent leer ken en staan hy verstom oor wat hier gebeur.
“Ek en Ella (Kotze) het verlede jaar in Desember oor ‘n koppie koffie gesit en gesels oor die besonderse talent wat in Bloemfontein is. Ek het vir haar gesê, kom ons stel ‘n produksie saam vir Bloemfontein soos nog nooit vantevore gesien nie. Ons het ‘n paar plaaslike kunstenaars genader en hulle was baie gretig om by soiets betrokke te raak. Ek het van my kunstenaarvriende in Johannesburg genader en selfs hulle was baie opgewonde – só is Moments ‘gebore’,” vertel Venter tussen kooroefenings saam met die Kinderkoor.
Die hele konsep van Moments gaan daaroor dat wanneer jy as teaterganger die musiek hoor dit sekere herinneringe sal opwek. Die produksie is gevul met goue oues, geliefde Afrikaanse treffers en ander bekende nostalgiese liedjies. Meer as 120 kunstenaars, waaronder sangers, dansers en kore, sal aan dié produksie deelneem.
Venter meen die sukses van die produksies wat hy in die verlede op die planke gebring het, lê daarin dat dit een groot konsep in geheel is en elke persoon wat daaraan deelneem net ‘n stukkie van die legkaart is.
“In só ‘n produksie kan dit nie oor ego gaan nie. Die een kunstenaar se rol in die produksie is nie meer belangrik as ‘n ander s’n nie. Dít is wat ‘n produksie van hierdie statuur suksesvol maak.”
Venter meen Moments is ‘n lewende musikale skouspel van die hoogste standaard, wat gebruik maak van toptalent in die land en dit skeppend laat saamsmelt met plaaslike kunstenaars in ‘n professioneel geskrewe, saamgestelde en geoefende verhoogproduksie, multirassig en veeltalig, met multifasette. “Moments is regtig gefokus op die ontwikkeling van die uitvoerende kunste in die gemeenskap, dus word plaaslike skole en groepe binne die produksie geïnkorporeer.”
Die program bestaan uit hoëprofiel-kunstenaars en sosiale aktiviste soos Jennifer Jones, Corlea Botha en Sonja Herholdt, die Bloemfontein Kinderkoor en plaaslike ikone soos Mario Lategan, Thabo Hlongwane, Ella Kotze, Elmarie Scheepers, Jacobus Silwer en Margie Anderson, wat saam met On-Que, die Kovsie Cheerleaders en die sensasionele Willie Venter-dansers optree.
Moments vind om 19:30 op Vrydag 22 en Saterdag 23 April 2016 in die Sand du Plessis-teater plaas, met Huibrie Verster as dirigent, Anton Esterhuyse as musikale dirigent en Eloise Cupido as seremoniemeester.
Kaartjies is beskikbaar by Pacofs teen R150. – Maricelle Botha
[email protected]







