Rhule – Blink toekoms wag op ongeslypte rugbydiamant

0
700

Raymond Rhule is tans waarskynlik die grootste jong rugby-sensasie in plaaslike Suid-Afrikaanse rugby. Vir die ster-vleuel/senter van die Toyota-Vrystaat-Cheetahs in die Absa Curriebekerreeks het alles begin toe hy vroeër vanjaar vir die Kovsies in die FNB Varsitybeker-kompetisie uitgedraf het.
Verlede week was dit opmerklik dat rugbykenners en die sportwêreld deeglik van hom kennis geneem het. Die talentvolle rugbyblits het nie minder nie as drie eerbewyse vir sy vertonings ontvang.
Op die Toyota-Vrystaat-Cheetahs se jaareindonthaal het hy twee van die vier PWC-spelertoekennings vir sy prestasies in 2012 ontvang.
Rhule is met die Spelers se Speler van die Jaar- en Speler wat die meeste vordering getoon het-eerbewyse bekroon. Hy het die podium met twee Springbokke, Adriaan Strauss en Johan Goosen, onderskeidelik die Rugbyster van die Jaar en Rugbyspeler van die Jaar, gedeel.
Hy is ook as die Kovsies se Junior Sportman van die Jaar vereer.
Ondanks die feit dat hy slegs 19 jaar oud is en verlede jaar aan die HTS Louis Botha in Bloemfontein gematrikuleer het, het die talentvolle rugbyspeler, wat in Ghana gebore is, meteoriese opgang gemaak. Hy het vir die Kovsies se Young Guns en Shimlas in die 2012 FNB Varsitybeker-reeks gespeel. Daarna het hy die Baba-Bokkies gehelp om die Junior Wêreldbeker te verower en het die Vrystaat-Cheetahs se trui in die o.21- en die Premier-liga van die Absa Curriebeker-reeks gedra.
“Dit is verstommend,” sê die jongman. “Verlede jaar hierdie tyd het en gewonder wat die toekoms inhou. Ek sou nooit kon droom dat ek só sou vorder nie en is bevoorreg.”
Die feit dat hy op die oomblik een van die voorste driedrukkers in die Curriebekerreeks is met die agt vyfpunters span die kroon.
Twee weke gelede het hy twee drieë teen die KZN-Haaie gedruk en het die ervare Speler van die Wedstryd, Odwa Ndungane, laat bontstaan met sy vaart en rou talent.
“Dit is alles bonusse. God help my en al my eer is aan Hom. Ek prober net altyd om my beste te gee,” sê die jong blits.
Rugbykenners glo Rhule moet in die Springbokspan wees vir die toer na Brittanje. Hoe dit ookal sy Rhule beskik oor die talent om ’n blink toekoms vir homself te verseker.
Die Vrystater en Baba Bokkie het reeds ’n aanbod van ’n jaarkontrak vir die Blitsbokke ontvang, maar hy het besluit om in Bloemfontein te bly. Nogtans is die Vrystaatse Rugbyunie gewillig om Rhule aanstaande seisoen vry te stel as hy nie Superrugby speel nie.
“Ek wil graag speelkans teen die bestes kry. Dit beteken om internasionaal te speel hetsy Superrugby of Sewes. Dit is vir my die logiese volgende stap,” sê Rhule.