Mariné Jacobs
Bewerings van die misbruik van polisievoertuie in die Vrystaatse Misdaad Intelligensie eenheid is onwaar en ongegrond. Só sê polisiewoordvoerder Billy Jones.
Dit kom nadat bewerings gemaak is dat staatsvoertuie in dié betrokke eenheid deur polisielede al vir ‘n geruime tyd misbruik word. Volgens ‘n betroubare bron eien sommige lede motors aan hulself toe wat hul dan soos ‘n privaat motor gebruik. Nie net word die motor vir privaat doeleindes aangewend nie, maar die lid gaan ook saans met die motor huistoe en hou die motor al is hy/sy met verlof. Daar word ook beweer dat administratiewe personeel polisiemotors vir hul privaat doen en late gebruik. Hierdie misbruik van voertuie het tot gevolg dat daar dikwels nie voertuie is om te gebruik vir polisie verpligtinge nie.
Jones het egter al die bewerings ontken. Volgens hom mag polisievoertuie slegs vir professionele gebruik aangewend word, beide operasioneel en administratief. Jones het verduidelik dat polisielede wel soms voertuie huistoe mag neem met die nodige toestemming, bv wanneer die lid op na-ure diens of op bystand is. Die voertuig se gebruik word egter steeds beperk tot professionele verpligtinge. Jones het verder gesê dat die Misdaad Intelligensie eenheid hul vloot voertuie op só manier bestuur dat maksimum gebruik daaruit geput kan word.
Hy het ‘n beroep gedoen op mense wat die bewerings maak om die inligting onder eed aan die polisie te verskaf, waarna die saak beslis ondersoek sal word.