Ontmoet Bloem se eie Avengers

0
3146
Personeellede van Dark Sky Security is van links, agter: Eduan Homsek, Jakkie Olivier (direkteur), Hannes van Aswegen (direkteur), Jannie de Bruyn en Gert Viljoen (Eagle Eye Monitoring); voor: Duane Liebenberg (direkteur), James Jacobs, Riekert van Niekerk en Pierre Kruger.

Oral om ons is onbesonge helde. Hier leer ons meer ken oor ‘n groep Bloemfonteinse helde. Dark Sky Security het sowat drie jaar gelede sy deure geopen om verskeie tipes misdade te beveg en Suid-Afrika ‘n veiliger plek te maak.

Dié groep mans het ‘n ander benadering geneem en identifiseer hulself as ‘n pro-aktiewe, hoërisikosekuriteitseenheid. Hulle word beslis nie beskou as ‘n gewone reaksiespan nie.

Hulle werk behels om misdaad te voorkom en te bekamp. Hulle begelei voertuie wat hoë waarde goedere vervoer, in samewerking met NoJack VehicleTracking and Anti-Hijacking Unit, en doen voertuigopsporing. Hulle beveg ook kapingspogings. “Ons het tot dusver ‘n 100% herstelkoers,” sê Jakkie Olivier, een van die drie direkteure.

Die swaar gewapende spanne doen ook private ondersoeke, hulle staan die SAPD by indien nodig, en hulle is ingestel om plaasaanvalle te voorkom met die Agri-taktiese eenheid.

Die span werk dwarsoor Suid-Afrika met takke in Bloemfontein, Kimberley en Kaapstad. Hulle werk tans nie in KwaZulu-Natal nie.

Dit is gevaarlike werk en hulle het in een week ses kapingspogings voorkom. Hulle is ook betrokke in verskillende gemeenskappe met hul gemeenskapsreaksie-eenheid. “Dit is vir ons lekker om by die gemeenskappe betrokke te wees en die mense en kliënte te help.Dit is vir ons belangrik om almal by te staan en te help waar ons kan,” sê Olivier.

Al is Dark Sky Security se werk dikwels gevaarlik, kyk hulle nie teen die negatiewe vas nie. “Die goed staan laglag bo die sleg uit. Ons gaan in gebiede in waar mense hulpeloos voel. Dit voel goed om ‘n verskil in daardie mense se lewens te maak. Dit is ook natuurlik lekker om al die verskillende mense te leer ken. Ons het regtig al mense van alle agtergronde leer ken. Ons is baie trots op die manier hoe ons die werk doen en die beeld wat ons uitdra.”

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za