Na net meer as twee jaar van baie reëls en regulasies, kan die manne van Bloemfontein weer uitsien na ‘n lekker manneaand saam met die Baby Tjoklits-sanger, Gerhard Steyn, en Vetkoekpaleis se Sheridan, Alvin Bruinders.
Pieter Erlank, die mede-eienaar van The Buffalo, meen dit is hoogtyd dat die manne weer ‘n aand saam geniet.
Hy sê Gerhard en Alvin is “die ideale pakket met Gerhard wat mense met sy sang vermaak en Alvin met sy ongelooflike snaakse sêgoed en sy persoonlikheid. Hy gaan ook as seremoniemeester optree wat gaan sorg vir ‘n ongelooflike lekker kuier-aand.”
Behalwe vir vermaak sal daar ook ‘n veiling plaasvind om geld in te samel vir Kyra Burger, die kankervegtertjie, vir haar besoeke aan Amerika waar sy later vanjaar behandeling vir haar siekte gaan ontvang. “Alle wins uit die kaartjieverkope en die veiling sal aan Kyra geskenk word,” het Erlank gesê.
Op die spyskaart sal heerlike bunny chows wees en daar sal ‘n kontantkroeg beskikbaar wees. Die manneaand vind plaas by The Buffalo op 7 Julie om 17:00 vir 18:00. Kaartjies is beskikbaar teen R350 per person of R3500 per tafel. Vir enige navrae of besprekings, kontak 082 417 7123.
Jeretha Oosthuizen