Lianie May kom sing vir klein Jeàn

0
296
Lianie May

Die bekende en geliefde Afrikaanse sangeres, Lianie May, kom op 31 Oktober 2019 spesiaal Rosestad toe vir ‘n konsert om geld in te samel vir die sewejarige Jeàn Muller van Bloemfontein wat met sensoriese gehoorverlies gediagnoseer is.

Lianie het die land in 2008 bekoor met haar weghol-trefferalbum Vergeet my nie. Van daar het die boeremeisie van Oranjeville in die Vrystaat diep in die Suid-Afrikaanse publiek se harte ingekruip.

Jeàn Muller

Met vele albums, multi-toekennings en ‘n film agter die blad, is Lianie nie net ‘n huishoudelike naam nie, maar is sy hier om te bly. Die gewilde plaaslike troebadoer, Thabo Pitse, wat ook sy gewig by die projek ingegooi het om geld vir Jeàn se mediese koste in te samel, sal in die voorprogram van Lianie se konsert optree.

Volgens Jeàn se ouers, Chantall en Rupert, word daar tans bloedtoetse gedoen om vas te stel wat Jeàn se permanente gehoorverlies veroorsaak het. Jeàn is vroeër die jaar ook met aandagafleibaarheidsindroom (ADHD) gediagnoseer en kry op die oomblik sielkundige behandeling asook spraak-, taal- en arbeidsterapie vir sensoriese probleme wat met ADHD gepaardgaan.

Thabo Pitse

Jeàn se ouers probeer nou geld insamel, aangesien hul siekefonds glad nie Jeàn se gehoorapparate dek nie. Die koste vir die apparate wat hy September moet kry, beloop tussen R45000 en R65000. Vir die interim het Jeàn ‘n stel leenapparate ontvang om steeds skool toe te kan gaan.

Kaartjies vir die konsert, wat by die Sandstone Sleeper Estate gehou word, is beskikbaar 073-196-8887 of by Kiki Corner in Langenhovenpark teen R120 per persoon of R1200 per tafel.

Enige iemand wat nie die konsert kan bywoon nie, maar graag skenking wil doen of tafel wil koop, kan 073-196-8887 bel.

Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za