Kookwater Shimlas-generaal word ‘n Cheetah

0
327
George Lourens (links) en Xavier Swartbooi (regs) tydens die Varsitybeker buurstryd tussen die Shimlas en Ixias vroeër vanjaar in Bloemfontein. FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs het ‘n groot aanwins gemaak deur die Universiteit van die Vrystaat Shimlas-losskakel, George Lourens, te kontrakteer.

Die kookwater agterlyn-generaal van die Shimlas sal na afloop van die Varsitybeker by die Cheetahs aanmeld om sy professionele loopbaan te begin en die 24-jarige Lourens erken dat dit ‘n droom is wat waar geword het.

Lourens se fokus is egter vir nou nog by die Shimlas wat eerskomende Maandagaand in Bloemfontein teen die Universiteit van Pretoria Tuks te staan kom in die halfeindstryd van die Varsitybeker.

Lourens het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy in sy noppies is met sy kontrak en hy sien daarna uit om te leer by gevestigde spelers soos Siya Masuku en Reinhardt Fortuin (albei losskakels), asook Ruan Pienaar en Frans Steyn (albei Springbok Wêreldbeker-wenners).

“Dinge het taamlik vinnig gebeur,” sê die speler wat by Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap gematrikuleer het.

“Ek is baie opgewonde om die geleentheid te kry om vanaf Mei by die Cheetahs aan te sluit. Soos ek al voorheen gesê het, dit was van die begin af ‘n kinderdroom. Daar is niks wat ek meer wil doen as om professionele rugby te speel nie. Hopelik kan ek my pad in die speelgroep inwerk.

“Daar is baie gehalte spelers en daar is baie ervaring; nie net op 10 nie, maar oral in die span. Dit is altyd goed om van rugby te leer en ek wil, so lank as wat ek kan speel en afrig. Hoe meer ek kan leer, hoe beter, en wat ‘n plek om dit te doen met al daardie ervaring.

“My fokus sal op die Cheetahs wees sodra die Varsitybeker eindig. Ons wil baie graag hierdie Varsitybeker wen en Dinsdag ná die moontlike eindstryd sal ek daarop begin fokus.”

Maandag se groot Varsitybeker-halfeindstryd tussen die Shimlas en Tuks op Shimlapark in Bloemfontein skop om 19:00 af. – MORGAN PIEK