Juan de Beer trek eersdaags sy partytjieskoene aan

0
945
Juan de Beer stel eersdaags sy debuutalbum beken.

Juan de Beer se sangloopbaan is besig om vinnig vlam te vat en hy stel eersdaags sy debuutalbum, Partytjieskoene, aan die publiek bekend.

Al is De Beer eintlik van Blou Bul-wêreld af, het hy hom vier jaar gelede in die Rosestad kom vestig.

Dié musikale jongman het begin sing toe hy agt jaar oud was. Vir ongeveer 12 jaar het hy sy lyf platejoggie gehou en afgesien daarvan dat hy deesdae sing, is hy selfs soms seremoniemeester. “Toe ek in Bloemfontein aangekom het, het ek vir myself gesê ek wil iets beters doen met my lewe en wil my musiek ‘groot vat’,” sê De Beer.

Hy skryf sy eie musiek en het stadig maar seker aan sy musiekloopbaan by die LimitLizTalentFactory (sangskool) begin werk.

Juan se gunstelinggenres sluit Country en Afrikaanse musiek in. “Ek is ‘n groot Afrikaner,” sê hy.

Sangers soos Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld is vir hom ‘n groot inspirasie. “Hulle skryf hierdie diep liedjies wat my raak.”

Op die oomblik is hy versot op Bok van Blerk se Lemoene. Van sy ander liefdes is boerdery.

Hy geniet sy vertonings en is by meeste feeste te sien. “Musiek is my alles en ek wil ‘n groot loopbaan daarvan maak,” vertel hy.

Sy boodskap vir ander jong sangers is om hul drome te volg. “Sit jou alles in, ek was op ‘n punt van my lewe waar ek rêrig geval het en dit amper nie gemaak het nie, maar ek het aanhou glo. Vat alles happie vir happie.”

As jy vir Juan wil bespreek vir ‘n vertoning of ‘n fees, bel gerus 083-640-1173 of 081-016-8235, of stuur gerus ‘n e-pos na juandebeer.bookings@gmail.com.

JERETHA OOSTHUIZEN

jeretha@mahareng.co.za