Vereniging vir Blindes druk besig met projekte

0
1529
Jafta Dladla (links) het die verslaggewers van Bloemfontein Courant, Pierce van Heerden en Jeretha Oosthuizen, geblinddoek om vir vyf minute te voel hoe dit is om blind te wees.

Die Vrystaatse Vereniging vir Blindes is druk besig met verskeie projekte vir 2017 en 2018.

Magrita de Wet, maatskaplike werker, sê die vereniging is op die oomblik besig met sowat ses projekte. Dit sluit die Glowsticks, Guardian,  Angel en die gewilde Dinner in the Dark-geleentheid in. “Vir die Glowsticks-projek word twee glowsticks verkoop vir R5. Die idee is om blindes te bemoedig – jy glow nog steeds, al is jy blind,” vertel De Wet.

Daar is ook die Guardian-projek. “Ons leer vrywilligers hoe om met ’n blinde persoon te werk en dan keur ons hulle. Jy kan dan die blinde persoon vir ’n jaar aanneem, en byvoorbeeld neem om kruideniersware te koop.”

Met die Angel-projek maak die blindes self engel-sleutelhouers met die tema vrede, liefde en geluk.

Oktober was Oogbewustheidsmaand en die vereniging het skole besoek om leerlinge se oë te toets en ’n bril te voorsien waar nodig.

Die groot projek wat volgende jaar vir die tweede keer gaan plaasvind, is die Dinner in the Dark-geleentheid. Dit vind op 16 Maart 2018 plaas en die vereniging is reeds hard aan die werk om alles mooi te beplan. Bekende sprekers soos Louzanne Coetzee en Riaan Naudé, ’n bekende blinde plaaslike sanger, gaan die geleentheid wat by Tuscan Rose gehou gaan word, bywoon. Koste beloop R300 per persoon.

Die Vereninging vir Blindes is in 1929 gestig en is ’n organisasie wat dienste lewer aan individue wat swak sig het of wat heeltemal blind is. Die vereniging sien om na kinders so jonk as drie jaar, terwyl daar ouer mense van tot 88 jaar oud is wat van sy dienste gebruik maak.

Vir meer inligting of donasies, borgskappe of betrokkenheid by ’n projek, bel gerus vir Magrita de Wet by 062-059-0958.

JERETHA OOSTHUIZEN

jeretha@mahareng.co.za