Byna ‘n maand gelede het ‘n uitheemse diertjie onverwags deel van Denise Mellet, inwoner van Bloemfontein, se groot reptielversameling geword.
Voordat Iggie, soos die reptiel gedoop is, op Mellet se voorstoep beland het, het hy ‘n groot avontuur beleef en oorsee gereis na Suid-Afrika. Hy is gevind agter die battery van ‘n voertuig wat per skip van Indië na Suid-Afrika vervoer is.
Mellet se man se het haar dadelik gekontak en haar vertel van die verlore diertjie. Sy het gaan navorsing doen oor die spesie en gelees dat hy ‘n “Oriental Garden Lizard” genoem word. “Ek vermoed hy kom van die Ooste af, meer spesifiek van Indië,” het Mellet vertel.
“Omdat ek baie reptiele het, het ek vir hom ‘n tuiste geskep. Ek het geweet hy sal nie oorleef in ons klimaat, spesifiek omdat hy uitheems is en nie maklik sal aanpas nie.
“Wat sou van hom word as hy in die verkeerde hande beland het? Hy het alles wat hy nodig het in sy kassie, byvoorbeeld ‘n ultraviolet- en rooi lig, sodat hy warm kan bly. Sy kos bestaan uit krieke en groenigheid.”
Maar hoe het die vreemde reptieletjie in Bloemfontein beland?
Skybaar het Iggie ‘n lêplekkie gekry in ‘n splinternuwe voertuig wat vir Suid-Afrika bestem was. Hy het drie maande lank in die voertuig op ‘n skip na Suid-Afrika gereis. Eers toe die voertuig in Bloemfontein aanland, het iemand hom agter die battery ontdek.
Mellet se man het geweet dat sy die regte pleegma vir Iggie sou wees en het hom huis toe geneem. Nou is hy deel van haar reptielkinders, waaronder twee iguanas waaraan hy verwant is, maar wat baie groter is as hy.
Zilke Prinsloo
[email protected]







