Déjà vu vir die Cheetahs

0
146
Die vlugvoetige Toyota Cheetahs heelagter, Malcolm Jaer, in aksie teen die Ierse span, Connacht by die Toyota-stadion in Bloemfontein FOTO: MORGAN PIEK

“As dít gaan gebeur, kan ek jou sê dat dit ‘n totale rugby-duisternis in die Vrystaat en Bloemfontein gaan wees. Dit sal die einde van mededingende rugby in die Vrystaat beteken.” Dit  volgens die oud-Springbok en WP-flank, Kulu Ferreira. Die Kroonstad-gebore Ferreira het reageer op die moontlikheid dat die Toyota Cheetahs die trekpas uit die Guinness PRO14 kan kry.

Dit is ‘n geval van déjà vu vir die Cheetahs met die druk op die franchise wat weer eens moet veg vir ‘n plek in dié groot internasionale rugbykompetisie. Die Cheetahs se plek in PRO Rugby is in gedrang aangesien die Super Rugby-spanne binnekort heelwaarskynlik nie meer teen die topspanne van Argentinië, Australië en Nieu-Seeland sal meeding nie.

Indien die Bulle, Leeus, Sharks en Stormers die Super Rugby verlaat kan dié spanne aan ‘n vergrote PRO16 deelneem, maar die prys vir dié deelname sal beteken dat die Cheetahs en die Southern Kings opgeoffer word.

Tans speel die Cheetahs en die Kings in die PRO14, en die spanne van Bloemfontein het reeds sedert hul eerste seisoen in die toernooi in 2017 hul staal gewys.

Die Kings het op hul beurt gesukkel en hul oorwinnings in drie veldtogte kan letterlik op een hand getel word.

Heelwat oud-Springbokkapteins en -spelers het egter hul stem dikgemaak oor die moontlik uitsluiting van die Cheetahs. Onder hulle is Theuns Stofberg, Adriaan Strauss en Francois Venter.

“Jy kan die redenasie verstaan waarom die Cheetahs en die Southern Kings uit hierdie kompetisie gelaat kan word om plek te maak vir die Superrugbyspanne,” het Stofberg aan Bloemfontein Courant gesê. “Daar is soveel spelers wat uit die Vrystaat kom en om nie toe te laat dat hulle blootstelling kry in die PRO14 nie, sal ‘n hartseerdag wees, nie net in Suid-Afrikaanse rugby nie, maar ook in wêreldrugby. Hulle moet ‘n manier vind om hierdie spelers in te sluit en die jong spelers iets te gee om voor te speel.”

Venter, wat die kaptein van die Cheetahs was toe hulle in 2017 uit Super Rugby geskop is, glo dat die regverdige ding om te doen sou wees dat die spanne speel vir die reg om in Europa te speel.

“Ek dink dit sal ‘n skande wees as hulle besluit om die Cheetahs uit die PRO14 te laat. Hulle het op die oomblik ‘n baie ordentlike groep en ek sien uit daarna om hulle te sien speel. “Na my mening sou hulle dalk ‘n soort uitklopronde kon speel om te kyk wie kwalifiseer. Ek weet daar is groot geld daaraan verbonde, maar ek is seker dat hulle ‘n plan kan maak. Laat die beste groepe by die PRO Rugby betrokke wees. Die Cheetahs was nog altyd mededingend in dié kompetisie en dit sal regtig ‘n skande wees. As speler wil jy net weet of jou klub ‘n toekoms het en in watter kompetisie jy gaan speel,” sê Stofberg.

Strauss, wat die Springbokke tydens die 2015-Rugby Wêreldbeker in Engeland aangevoer het, sê dat Cheetah-spelers dik velle het en weet hoe om hulle af te stof.

“Dit is ‘n baie moeilike een en dit is moeilik as jou lot nie heeltemal in jou eie hande is nie. Maar die Cheetahs, en die soort spelers wat daar gekweek word, sal altyd ‘n manier kan vind om te verras en verwagtinge te oortref.  Ek dink dat dit daardie spelers net meer sal motiveer as ooit tevore. Hoe dit ook al sy, die ouens se karakter sal na vore kom. Ek wens hulle almal sterkte toe. Die mense van die Vrystaat het nodig dat hul geliefde Cheetahs kan speel!”

SA Rugby sal dié week nog vergader om te besluit oor die pad vorentoe. Dalk het Venter ‘n goeie punt beet, en die Curriebeker sal die ideale geleentheid wees om te sien watter vier spanne regtig hulle plek in Europa verdien. Dit sal egter weer baie betekenis gee aan die Curriebeker, net soos destyds. – MORGAN PIEK