Phunya Sele Sele is slaggereed

0
459
Die verdediger, Ronald Pfumbidzai, is nie vir Celtic tans beskibaar nie siende hy nog is sy geboorteland, Zimbabwe, gestand is. FOTO: MORGAN PIEK

Die Premier Sokkerliga-klub, Bloemfontein Celtic, is gereed om aanstaande naweek weer eens die speelveld te betree wanneer plaaslike sokker in Suid-Afrika hervat.

Die voorsitter van die PSL, Irvin Khoza, het Maandagmiddag bevestig dat Suid-Afrikaanse sokker op 8 Augustus sal hervat nadat die sport in Maart opgehef is weens die Covid-19- pandemie.

Die eerste twee wedstryde is die Nedbank Cup-halfeindrondes, met Wits wat teen Mamelodi Sundowns te staan sal kom, terwyl Celtic die span van  Baroka FC sal pak.

Die nuwe Celtic-hoofafrigter, John Maduka, het aan Bloemfontein Courant gesê dit was ‘n frustrerende tyd, maar hulle is slaggereed vir die uitdaging.

“Ons sien uit na die komende wedstryde, en soos jy weet, is die eerste wedstryd vir ons die Nedbankbeker-halfeindstryd en dit is ‘n baie groot een vir ons. Dit is nog ‘n tree na die eindstryd en dit is ‘n beker wat ons as ‘n klub nog nooit vantevore gewen het nie.

“Ons is baie opgewonde om terug te gaan na wat ons weet die beste is en sien uit na hierdie wedstryd. Dit was ‘n uitdagende tyd, selfs al het ons geoefen, maar daar was niemand teen wie ons kon speel nie.

“Maar, aan die einde van die dag is al die ander spanne in dieselfde bootjie en hoewel dit ‘n baie moeilike tyd is, moet ons sorg dat ons alles in ons vermoë doen om die span voor te berei en mee te ding wanneer die wedstryde hervat word.”

Die afskoptye en die bio-borrel waar die kragmetings sal plaasvind, moet nog bevestig word. – MORGAN PIEK