Bloemfontein se eie G.I. Jane

0
Bloemfontein se eie G.I. Jane
RUFUS BOTHA

Bloemfontein – Ontmoet Bloemfontein se eie G.I. Jane. Haar naam, Hanneké Dannhauser. Hierdie 26-jarige oudskolier van die Hoërskool Jim Fouché het in minder as ses maande ontwikkel in een van die land se beste vroue in ‘n sportsoort wat waarskynlik onbekend is onder meeste sportliefhebbers.

In Suid-Afrika word dit genoem die "Jeep Warrior Race"-reeks.

In Amerika, waar die wêreldkampioenskap in Cincinnati (25 en 26 Oktober) gehou word, heet dit "Obstacle Course Racing (OCR)".

Dié sportsoort is uitmergelend en geniet reeds groot televisiedekking. Vir die ouer garde wat destyds die pyne van basiese opleiding in die Weermag deurgemaak het, Warrior-sport is soortgelyk aan die Weermag se hindernisbane, met die verskil dat jou uithouvermoë terselfdertyd tot die uiterste getoets word met langafstandhardloop bygevoeg – alles aaneen. Dannhauser, ‘n instrukteur by ‘n plaaslike gimnasium in Bloemfontein, is ‘n fikshiedsfanatikus.

Toe sy vroeër vanjaar verneem het van die Warrior-sportsoort het sy nie ingeskryf vir die "Rookie"- (beginner) wedloop nie. Sy het die bul by die horings gepak en ingeskryf vir die Elite-wedloop. Die eerste byeenkoms van die jaar is in Maart op Olifantsfontein beslis en daar het nie minder nie as 7500 deelnemers hulle staal getoon in die verskillende afdelings, waarvan die Elite-wedloop die grootste en moeilikste is. Sowat 150 atlete (mans en vroue) het ingeskryf vir die Elite-wedloop. Die vroue was maar dun gesaai.

Dit is nie verbasend nie, want die Elite-wedlope behels ‘n totale hardloopafstand van tussen 15 en 21 km en dan is daar die hindernisse oor die spreekwoordelike berge en dale tussen die harloopdafstande. Hindernisse sluit onder meer in om deur modderpoele te hardloop en kruip, touklim, bande-sleep, oor hoë mure klouter en met sandsakke hardloop – om slegs ‘n paar te noem. Deelnemers weet boonop nie vooraf wat op hulle wag nie.

Terug by Dannhauser. Sy het op Olifantshoek ‘n skitterende debuut gemaak en derde geëindig onder die skoner geslag (hoewel hulle nie so skoon gelyk het na die modderbadepisode nie!). Sy het 2:25:22 aangeteken en was slegs een minuut en 11 sekondes agter die wenner en een van die land se bekendste multisportatlete en fietsryers, Carla van Huysteen (2:24:11).

Dannhauser was boonop algeheel 21ste tussen die manne en vroue. Van Huysteen is die dogter van die legendariese Springbokvleuel van die 1970’s, Gerrie Germishuys. Hierna was daar geen keer aan die Bloemfonteiner nie. Sy het die volgende wedloop (6 April) gewen en 11 Mei by Hartbeespoortdam wéér so gemaak. Hartbeespoortdam is weer op die agenda (September) en hierna sal die beste man en vrou van die reeks Suid-Afrika verteenwoordig in Cincinnati.

Die mans- en vrouewenner van die elite-afdeling by die eerste byeenkoms na Cincinnati wat weer in Suid-Afrika (November) beslis word sal elk R100 000, 00 in die sak steek.

Terloops, die baan in Cincinnati word uitgelê deur Amerika se Navy Seals.

No posts to display