Michiel Kruger, ‘n blinde rolbalkampioen, het mense weer stom gelaat met sy briljante prestasie by ‘n onlangse rolbalkampioenskap in Durban. Kruger het in die kompetisie vir fisiek- en visueelgestremdes in Mei individueel en in spanverband deelgeneem.
Die visueelgestremde spelers se spel word aangepas na gelang van hulle gestremdheid. Die visueelgestremde spelers word in verskillende klasse ingedeel afhangend van hulle hoeveelheid visie.
Alhoewel die kampioenskappe klein is, sowat 80 spelers, is die kompetisie steeds straf. Die spelers speel almal eers ‘n gemengdepaar-kompetisie, gevolg deur enkelspel. Die Vrystaat- en Oranje-rolbalklub kan saam trots wees op die huidige wêreldkampioen, wat uitstekend presteer het tydens die verrigtinge. Michiel Kruger het weggestap met ‘n onoorwonne rekord en het die eindstryd 21-3 gewen.
Nodeloos om te sê, hy het weggestap met die goue medalje. Buiten Kruger kon die Vrystaat spog met 2 ander deelnemers – Lina Steyn en Heiny Putter. In die pare het Putter en sy spanmaat, Monica van Zyl, en Michiel en Lina (wat as ‘n span deelgeneem het), die uitspeel vir die bronsmedalje net-net verloor.
Putter en sy spanmaat het in die B2-kategorie deelgeneem, wat beteken dat die deelnemers gedeeltelik blind is. Michiel en Lina het in die B-kategorie deelgeneem – algeheel blind. Graham Hallowell is baie beïndruk met Michiel Kruger se tegniek en meen dat hy baie oor sy eie spel geleer het gedurende die jaar wat hy Michiel afrig. Weens siekte kon Michiel se afrigter van die afgelope 20 jaar, Willie Schoeman, hom nie meer afrig nie en het Graham vir die laaste jaar oorgeneem.
Graham reken dat Michiel se spel van die akkuraatste is wat hy nog gesien het. Volgens Michiel is sy sukses te danke aan harde werk en deursettingsvermoë. Hy het die volgende te sê oor sy prestasies: "As jy wil presteer en suksesvol wil wees, moet jy binne jouself sekerheid hê dat jy ‘n spesifieke doel wil bereik. Jy moet dan net jou kop neersit en baie selfdisipline aan die dag lê en jou beste doen.
Om goed te wees in ‘n sport is nie altyd maklik nie, jy gaan baie prysgee, maar die belonings en erkenning is die moeite werd. Jy gaan baie meer teleurstellings as suksesse ervaar, maar jy moet die teleurstellings kan verwerk en weet dat jy die volgende keer beter sal vaar."
Michiel se leuse in die lewe en dit wat hom op die aarde geplant hou is: "bly nederig en werk hard". "Ek sou ook niks sonder my ondersteuningsbasis, Mariaan, Graham en Willie kon bereik nie. ‘n Groot deel van my sukses is aan hulle te danke."







