Die Bloemfontein-blits, Wayde van Niekerk (Kovsies), het die naweek sy 2014- internasionale atletiekseisoen op skitterende wyse afgesluit.
Van Niekerk was ingesluit in die Afrikaspan wat kragte gemeet het by die tussen- kontinentale wêreldbekerbyeenkoms wat elke vier jaar beslis word en die naweek op Afrika-bodem in Marrakech, Marokko aangebied is.
Hy is vir die 400m gekies en hier het hy vierde teen van die voorste 400m-atlete in die wêreld geëindig.
Hy het in baan sewe gehardloop en moes uithaal omrede hy nie die manne aan sy binnekant kon dophou nie. Hy het die laaste 80m begin swaar leef, maar steeds in ‘n skaflike 45,27 oor die eindstreep genael.
LaShawn Merrit, wat die Amerikas by dié byeenkoms verteenwoordig het was eerste in ‘n haastige 44,40 en die Botswana-ster, Isaac Makwala (Afrikaspan) tweede in 44,84.
En toe spring die manne aanmekaar in een van die opwindenste wedlope van die byeenkoms, die 4x400m-aflos. Onthou, die Botswana-yster (Makwala, tweede skof) is ook ‘n Afrikaan en tree toe saam met Van Niekerk aan. Die twee ander Afrika-lede in die wedloop was die Keniaan, Boniface Mucheru Tumuti (eerste skof) en die Zambiër, Saviour Kombe (derde skof).
Daar was min twyfel dat die Amerikas met briljante 400m-atlete in hulle span die nommer oudergewoonte sou wen. Die einste Merrit het vir die laaste skof van die aflos vir hulle aangetree en Javier Culson (Puerto Rico), Chris Brown (Bahamas) en Kim Collins (Saint Kitts and Nevis) in onderskeidelik die eerste, tweede en derde skof.
Die Europese-span met Conrad Williams (Britanje), Jakub Krzewina (Poland), Donald Sanford (Israel) en Martyn Rooney (Britanje) het die grootste gevaar vir die Amerikas ingehou. Die Amerikas het egter heeltemal uit die bus geval en toe speel ‘n tweestryd soos min hom af tussen Europa en Afrika wat as die "underdogs" beskou is.
Met Rooney wat die laaste skof vir Europa aangepak het en boonop die aflosstokkie eerste ontvang het, sou menige atletiekkenner gereken het dis eenrigtingverkeer na goud vir Europa.
Maar, hulle het vergeet dat die laaste skof vir Afrika deur een van die wêreld se groot vegters op ‘n atletiekbaan, Wayde van Niekerk, aangedurf sou word. Van Niekerk het die stokkie by Makwala oorgeneem en is kort daarna soos ‘n blits by Rooney verby.
Hy het met die hart van ‘n leeu dié wedloop in 3:00,02 vir die Afrika-viertal se goud voltooi. Europa se tweedeplektyd (3:00,10) was ná ‘n rillerstryd slegs agt honderdstes van ‘n sekonde stadiger.
Dit was die eerste keer in meer as twee dekades dat Afrika dié nommer by die byeenkoms wen.
Die Amerikas was uiteindelik baie ver agter en kon slegs 3:02,78 aanteken vir brons.







