Die veelsydige tweekampatleet en ma van twee puik veelkampatlete, Sorita Viljoen, was verlede week op haar stukke by die Suid-Vrystaatse tweekampproewe wat in Bloemfontein beslis is. Viljoen, wat in die veterane-afdeling vir vroue (40 tot 49 jaar) deelneem het beslis die jeug van die Suid-Vrystaat ‘n tweekamples geleer toe sy die meeste punte by die byeenkoms versamel het.
Sy het 2239 punte bymekaargemaak vir haar puik 1000m-hardloop (3:35,26)- en 100 m-swem(1:24,59)-skofte.
Wat Viljoen se hardloopskof indrukwekkend maak is dat slegs sewe atlete van die Evageslag wat die 1000m-hardloopskof moes aandurf dit vinniger as sy kon vermag. En, nie minder nie as 50 van die genoemde atlete (onder 13 tot senior vroue), moes met ‘n stadiger tyd as Viljoen tevrede wees.
Dit is kommerwekkend dat soveel meisies (en vroue) stadiger as sy gehardloop het.Vyf ander atlete het die onderskeiding behaal om ‘n oorwinning én meer as 2200 punte in te oes.
Viljoen se seun, Gean (Willem Postma), het in die afdeling vir seuns o.13 ‘n reuse-oorwinning behaal toe hy die 1200m-hardloopnommer en 100m-swemskof in puik tye van onderskeidelik 4:01,58 en 1:10,25 afgehandel het. Corniel Smith (Bultfontein, 1996 punte) was tweede.
Gepraat van veelsydig – die skitterende eerstespan-hokkiespeler van die Hoërskool Grey-kollege, Heinrich Bruhns, het ‘n gemaklike sege in die seuns o.19-afdeling behaal. Hy het 2228 punte verdien en sy hardloopskof (2000 m, 6:33,91) is noemenswaardig.
Hy het Frans Marx (Jim Fouché) wat tweede was (2142 punte), getroef. In die meisies o.15-ouderdomsgroep hetdrie atlete meer as 2256 punte verdien en al drie is boonop van die Hoër Meisieskool Oranje.
Nadine Kemp, wat 3:23,79 (1000 m) gehardloop het en 1:12,50 (100 m) geswem het, was net-net een te veel vir haar twee spanmaats, Zelda van der Merwe (tweede, 2227 punte) en Daniella Smith (derde, 2210 punte).
In die meisies o.17-ouderdomgroep was dit weer Oranje se leerlinge wat die septer geswaai het. Jayme-Sue Vermaas (2252 punte) was skitterend met haar oorwinning in beide die hardloop- (1000m, 3;18,14) en swem- (100m, 1:08,29) nommers.
Sy het egter goeie teenstand beleef van Sorita Viljoen se dogter, Mizan (2211 punte). Mizan het onderskeidelik 3:20,37 en 1:11,25 gehardloop en geswem vir haar netjiese tweede plek.
Die blonde buksie van die Laerskool Oranje, Alex Klopper, het self ontplof met ‘n maklike oorwinning (2212 punte) in die meisies o.11-afdeling. Sy het kookwatertye van 2:43,38 (800m- hardloop) en 33,19 (50m-swem) op die uitslagkaart ingevul.