VS Landbou staan saam met Ficksburg vir beter paaie

0
246

Vrystaat Landbou (VL) het sy ondersteuning toegesê aan Sechaba sa Ficksburg, Ficksburg se gemeenskapsforum, wat hierdie week alle roetes deur Ficksburg gesluit het.

Die forum verteenwoordig verskillende plaaslike instansies en organisasies, waaronder FITA (Ficksburg-taxivereniging), AFASA (African Farmers’ Association of South Africa), Landboubesigheid OVK, Setsoto-jeugontwikkeling, Ficksburg-meentgrondhuurders, Ficksburg-landbouvereniging en tale ander.

Volgens die streeksverteenwoordiger van VL, Friedl von Maltitz, het die forum besluit om tot aksie oor te gaan weens onbevredigende reaksie van die regering.

Von Maltitz sê dat die swaar reën in die begin van die jaar na baie droë jare die finale slag vir die reeds brose paaie-infrastruktuur was. Hy sê plaaslike gemeenskappe het genoeg gehad en neem sake in hul eie hande.

“Dit het daartoe gelei dat ons paaie-infrastruktuur oor die Vrystaat heen uiteindelik ingegee het na jare se versoeke, briewe en vergaderings met amptenare van die regering, wat geen betekenisvolle optrede tot gevolg gehad het nie.”

Die roetes sal gesluit bly totdat die forum ’n bevredigende antwoord van die regering ontvang op ‘n brief wat hulle aan die premier van die Vrystaat, Sefora Ntombela gerig het. In die brief, wat op 2 Maart 2021 gelewer is, het die forum ‘n dringende vergadering geëis oor die voorsiening van dienste en die instandhouding van infrastruktuur om verdere optrede te voorkom.

VL se president, Francois Wilken, sê dat hulle die gemeenskap van Ficksburg ondersteun en sal voortgaan om druk op die regering uit te oefen om hul pligte uit te voer soos vervat in die Grondwet.

Hy sê die feit dat gemeenskappe paaie moes sluit om die regering se aandag te kry, is verregaande en skandalig.

“Die regering sal moet kennis neem van gemeenskappe se besware, want almal het ‘n grondwetlike reg op basiese dienste, en die versuim om infrastruktuur te onderhou, ontneem mense van hierdie reg.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za