Die veelsydige Gean Viljoen (Willem Postma) is die enigste atleet wat Donderdag én Vrydag by die onderskeidelike straatmylbyeenkomste dit kon vermag om oorwinnings by albei byeenkomste te behaal.
Hierdie puik veelkampatleet het by die byeenkoms by Oranje die afdeling vir seuns onder-13 in ‘n haastige 4:51 geseëvier en sodoende die tweede atleet, Reatile Tlhabankwe (5:02) ver agtergelaat.
Viljoen het die volgende dag by die St. Michael-byeenkoms, wat deel uitgemaak het van dié spogskool se 140ste bestaansjaar-herdenkinge die wedloop vir seuns in die laerskole-afdeling gewen.
By Oranje het die puik 800 m-atleet van die Kovsies, Rynardt van Rensburg die seniormans-wedloop in 4:33 belkink, maar hy moes deurgaans ‘n aanslag van die tweede atleet, Xolani Loni (35) afweer. Jano Victor (5:08) was baie ver agter hulle in die derdeplek.
Die skitterende langasem van die Hoërskool Louis Botha, Andrico Williams het onder die manne een van die voorslag vertonings gelewer. Hy het die afdeling vir seuns onder-19 in ‘n puik 4:38 kafgedraf. Hy is gevolg deur sy twee Louis Botha-spanmaats, Gomolemo Leepile (4:42) en Sipho Ramohotsi (4:44).
Nog ‘n Kovsiestudent, Rizani van Aswegen was ook baas in die seniorafdeling. Sy het die seniorvroue-wedloop loshande gewen in 5:42. Haar wentyd is dieselde (4:42) as dié van die wenner van die meisies onder-19-wedloop, Welmarie Volschenk.
Volschenk is gevolg deur Marjoné Human (6:06) en Charné Viljoen (6:18).
By die byeenkoms by St. Michael is die wedlope weens verskeie redes van ‘n myl na 1500 m verkort.
Die skitterende Kovsie en nasionale juniorrekordhouer oor die einste 1500 m-afstand, Dumisane Hlaselo was in die seniorwedloop ongenadiglik en het gewen in ‘n kookwater 4:10.
Die senior-vrouewedloop is gewen deur Teresa Richards in ‘n self nie te versmaai nie 5:06. Richards, wat bekend is vir haar puik veelkampe vertonings het ‘n paar gesoute atlete met rooi gesigte agterweë gelaat.







