Kolskoot

0
890

GEORG VAN ECK

Goeiedag

Kan julle dit glo? Ons ou groepie is nog saam op ons krieketsafari. Buig of bars, almal gaan die vierde en laaste kriekettoets, wat môre op Supersportpark in Centurion begin, bywoon. Dit was Oom Sjert wat ons oortuig het.
"Dit is nie net Oom Sjert wat my oorreed het nie. As dit nie vir Jo'burg Ope op die Royal Johannesburg & Kensington-gholfbaan was nie, was ek reeds terug in die Kaap.

"Daardie twee jong Suid-Afrikaners, Haydn Porteous en Zander Lombard, het my Suid-Afrikaanse sporthart weer warm laat klop en verseker dat ek die Proteas gaan ondersteun. Lombard het gesamentlik tweede geëindig en het saam met Porteous vir die 145ste Britse Ope in Julie op Troon in Skotland gekwalifiseer. Waar daar lewe is, is daar hoop," probeer Bontie Bonthuys sy besluit verduidelik.

"Ek stem saam. Porteous se verowering van die tiende Jo'burg Ope-titel met -18 houe net 'n week nadat Brandon Stone die SA Ope op Glendower gewen het, wys dat ons gholf, anders as verskeie ander sportsoorte in die land, kerngesond is. Minstens tien Suid-Afrikaners sal dus in die Britse Ope afslaan, en het julle geweet, Porteous, Stone en Lombard sal Suid-Afrika as amateurs in die Wêreldspankompetisie om die Eisenhowertrofee verteenwoordig," gesels Stywelip Carrington saam.

"Manne, dit help nie om die krieketgemors te probeer verbloem nie. Saterdag het die Engelse ons binne drie dae met sewe paaltjies geklop. Dit was 'n pyniging om te aanskou hoe ons Protea-kolwers in hul tweede beurt vir net 83 lopies uitgeknikker is, én dit was daardie lang Engelsman, Stuart Broad, wat dit byna op eie houtjie vermag het. Hy het ons laat steier om met boulsyfers van 6/17 te spog. Antwoorde moet gevind word en Russell Domingo sal as hoofafrigter moet pa staan vir hierdie agteruitgang van die Proteas se spel," laat Botterbul Bester van hom hoor.
"Domingo is die man wat die vrae moet beantwoord. Ons is ons eerste plek as die beste krietettoets-span ter wêreld kwyt en die Engelse het reeds die Basil D'Oliviera-trofee in die huidige reeks verower, maar daar wag nog vier Internasionale Eendag-wedstryde en twee T20-wedstryde teen die Engelse voordat ons die Aussies in Maart pak en dit laat my sidder.

"Hoekom volhard Domingo met Stiaan van Zyl as aanvangskolwer en hoekom is Hardus Viljoen bo 'n man soos Kyle Abbott as naatbouler in die derde toets ingespan?

"Ek wil nie die eerste eendagwedstryd op 3 Februarie in Bloemfontein gaan bywoon as die Proteas nie dramaties regruk nie," ondersteun Oom Sjert vir Botterbul.

"Manne, wees meer positief. Onthou, behalwe ons jong gholfspelers het Giniel de Villiers in sy Toyota-bakkie weer die derde plek in die Dakar-tydren in Argentinië verower. Dit was net Stephane Peterhansel (Peugeot) en Nasser Al-Attiyah (Mini) wat De Villiers kon klop. Dis 'n uitstekende prestasie," probeer Sporie Bezuidenhout om die manne op te beur.

"Ja, en onthou die Varsitybeker-rugbyreeks begin reeds op 8 Februarie, terwyl die Superrugby-reeks op 26 Februarie met twee nuwe spanne, die Jaguars van Argentinië en Sonwolwe van Japan, afskop. Dit gaan opwindend wees," verander Bontie die onderwerp.

Skielik is daar weer lewe en almal praat saam.

Groetnis