SABRINA DEAN – Vier mans wat vasgetrek is in verband met die dood van Oranjeville-apteker Vivian Ponté sal na verwagting vandag in die Heilbron-landdroshof verskyn.
Polisiewoordvoerder Peter Kareli sê die verdagtes is in hul huise in die Metsimaholo-nedersetting buite die dorp gearresteer nadat die stasiekommissaris ‘n wenk van die gemeenskap ontvang het.
"Die vier verdagtes is tussen die ouderdom van 23 en 27. Hulle verskyn vandag in die Heilbron-landdroshof op aanklagte van moord, brandstigting en roof," sê hy.
Die verdagtes het na bewering Sondagnag vir Ponté in haar slaapkamer vermoor en die kamer aan die brand gesteek. Kareli sê haar kop het ook plek-plek brandwonde op gehad. Kareli sê afhangend van die naadoodse ondersoek se uitslae kan die vier moontlik ook verkragtingsklagte in die gesig staar.
Ponté was ‘n apteker wat in Johannesburg in ‘n mediese laboratorium werksaam was. Sy was ongetroud en het geen kinders nie. Die verdagtes het waardevolle artikels uit Ponté se huis in hul besit gehad.
Date:







