Studenteaktivisme verskyn uiteindelik op die agenda van akademici. Die boek getitel, Student Politics in Africa: Representation and Activism, geredigeer deur Thierry M Luescher, Manja Klemenčič en James Otieno Jowi, is op 14 Junie 2016 bekendgestel. Die boek het die werk en vrae van agtien geleerdes wat met die kwessies van hoëronderwysontwikkeling, -bestuur en studentepolitiek in Afrika gemoeid is, byeengebring.
Dr Luescher is ʼn assistentdirekteur in die Direktoraat vir Institusionele Navorsing en Akademiese Beplanning (DINAB) op die UV Bloemfontein-kampus.
Studentepolitiek in Afrika
Die boek fokus op die totstandkoming van nuwe kennis oor studentepolitiek in Afrika. Dr Luescher het verduidelik dat die inspirasie vir die boek gebaseer is op die belangrikheid van die manier waarop die stem van studente in hoër onderwys weerspieël word. ’n Bestendige toename van studente in die besluitnemingstrukture van universiteite is deur die dekades oor Afrika heen ervaar.
Huidige klimaat van studenteaktivisme
Op ’n vraag oor die manier waarop die boek die huidige klimaat van studenteaktivisme hanteer, het dr Luescher as volg geantwoord: “#FeesMustFall is ’n voorbeeld van studenteaktivisme in reaksie op die probleem van studenteleiers wat nie met betrekking tot studentefinansiering gehoor word nie, veral wat betref ondersteuning aan behoeftige en middelinkomste-studente. Die boek toon aan dat die Suid-Afrikaanse studentebeweging nie uniek is nie, maar eintlik deel van ’n kontinentale – inderdaad ’n wêreldwye – herlewing van studenteweerstand teen neo-liberale beleid in hoër onderwys.”
Studenteaktivisme en politieke partye
Nog ’n vraag wat na vore gekom het, het gefokus op die versekering van ’n gesonde verhouding tussen studenteaktivisme en politieke partye. Dit is verduidelik as verskillende prosesse in verskillende Afrikalande. “Hoewel dit hand aan hand gaan met mekaar, is dit belangrik dat daar ’n reëling tussen die twee bestaan sodat studenteleiers nie in die mag van partye beland en iets aan hulle verskuldig sal wees nie,” het dr Luescher gesê.
Die boek sal vir sowel studenteaktiviste as die strukture wat binne instellings bestaan, dien as ’n wonderlike manier om insig in mekaar se perspektiewe te verkry en ’n meer vriendskaplike verhouding te hê.
Uitgereik deur die UV







