Pretorius swem driekuns los

0
943
RUFUS BOTHA

Die 20-jarige Reynier Pretorius het Saterdag by die interklub-swembyeenkoms by Kovsies die enigste driekuns in die senior (17 jaar en ouer) nommers behaal.

Dié kranige swemmer van Kovsies Aquatics-swemklub het in die 50m- en 200m-rugslag geseëvier en sy driekuns voltooi toe hy in die 200m-wisselslag ook eerste die kant geraak het. In die 50m-rugslag het hy ‘n haastige 28,44 aangeteken en vir Reynard Wessels (Otters, 29,78) gerieflik geklop.

Pretorius het die 200m-rugslag ook maklik gewen (2:14,45) en toe sy veelsydigheid bewys deur die 200m-wisselslag in ‘n goeie 2:18,56 loshande te beklink. Francois Theron (Kovsies) het sy heerskappy in die borsslag beklemtoon deur die 200m maklik sy eie te maak in 1:06,92. Theron het egter met ‘n begeesterde Wessels in die 50m-borslag te doen gekry.

Dié nommer het in een van die opwindendste tweestryde van die byeenkoms ontwikkel en Theron (31,62) het slegs ses honderdstes van ‘n sekonde voor Wessels (31,68) geëindig. Wessels het op sy beurt die 50m-vryslag gewen in ‘n blitsige 23,60 en vir Eben Vorster (Otters, 25,33) geklop. Vorster het Wessels in eie munt terugbetaal toe hy laasgenoemde in die 100m-vlinderslag getroef het.

Vorster se tyd was 58,43 teenoor Wessels se 59,76. Onder die skoner geslag het drie swemmers twee oorwinnings gesmaak. Chantel Blignaut (Seals) het die 50m-rugslag (33,98) en 100m-vlinderslag (1:08,48) gewen. Michelle Wessels (Otters) het in die 100m-borsslag (1:17,12) en 50m-borsslag (34,75) gemaklik geseëvier terwyl Anja Gericke (Kovsies Aquatics) die 200m-borsslag (2:45,08) en 200m- individuele wisselslag in 2:41,02) gewen het.

Dit was egter in die 50m-vryslag waar die vonke behoorlik gespat het. Wessels se tweelingsuster Carmen, het vir Blignaut en Michelle ná ‘n rillerstryd naelskraap getroef. Slegs 28-honderdstes van ‘n sekonde kon dié drie skei. Carmen het gewen in 28,96. Blignaut (29,08) en Michelle (29,24) moes met die onderskeidelike tweede en derde plekke tevrede wees.

Onder die jonger meisies het Carike Moolman (Otters) met haar oorwinning (meisies 15 tot 16 jaar) in die 50m-rugslag in 33,16 beïndruk. Marné Frylinck (Kovsies) het in die 200m-rugslag (2:35,43) en 200m- individuele wisselslag (2:36,68) in die meisies 15 tot 16 jaar-ouderdomsgroep puik oorwinnings losgeswem. Genoemde tye van Moolman en Frylinck was vinniger as die wentye in die senior afdeling.