Bloemfontein se eie Cezanne Yzelle en Gerduan Kemp nooi musiekliefhebbers na ‘n aand vol musiek soos wat Bloemfontein nog nooit ervaar het nie… en dít alles in Afrikaans.
Volgens Cezanne vind die konsert op 14 Mei plaas by Aasvoëlklub. “Aasvoëlklub is en was nog altyd baie goed vir ons kunstenaars en dit is altyd ’n ongelooflike ervaring om daar op te tree,”sê sy.
Dit is nie die eerste keer dat Cezanne en Gerduan die verhoog deel nie, maar dit is die eerste vol-vertoning wat hulle saam aanbied.
“Ons persoonlikhede vul mekaar goed aan en dis net ’n plesier om saam met hom te sing. Ons wil graag die vertoning binnekort pad toe vat na die res van SuidAfrika.”
Volgens Cezanne het hulle die groot Afrikaanse treffers van die laaste paar jaar in een pot vol pret gegooi en sy glo dit beloof opwindend vir die konsertgangers te wees om gunsteling ná gunsteling te kan hoor.
“Ons word ook vergesel deur ’n ongelooflike kitaarspeler, Petrus van Wyk! Hy is ongelooflik talentvol en sorg altyd vir lekker energie.”
Cezanne vertel aan Bloemfontein Courant dat hul veelsydigheid as musikante goed ten toon gestel word met die dat hulle ook self instrumente sal speel in die vertoning en van die groot treffers bietjie anders gaan vertolk.
Op die vraag hoe hulle met die naam In Jou Taal besluit het, sy vertel dat dit Gerduan se slim woordspeling was: kom kyk, hier is ons “In Jou Taal”.
“Ek en Gerduan het albei redelik onlangs die Afrikaanse mark betree met nuwe enkelsnitte. Ons wou so graag ons eie musiek asook ons liefde vir die taal met ander deel.”
Yzelle het nog nie persoonlik’n konsert net in Afrikaans aangebied nie, en soos wat hulle aan die musiek werk vir die konsert, vertel sy, raak sy net liewer en liewer vir die mooi en ryk taal.
Kaartjies is beskikbaar teen R100 per persoon by www.phoenixpro.co.za
Sazly Hartzenberg







