Van die verf van padrandstene tot die skoonmaak van strate, inwoners van die Trots Pellissier-woonbuurtvereniging is nie bang om hul hande vuil te maak om te verseker hul gemeenskap is ten alle tye in ‘n puik toestand nie.
In 2018 het vyf inwoners ‘n “omgee-groep” begin waar hulle dele van die gemeenskap begin skoonmaak het en ook bewusmaking geskep het. In 2019 is die nie-winsgewende organisasie, naamlik die “Trots Pellissierwoonbuurtvereniging”, gestig.
Trots Pellissier is ‘n nie-winsgewende gemeenskapsorganisasie waarvan die hoofdoelwitte is om ‘n omgewing te skep waarin elke inwoner van Pellissier, ongeag ras, kleur of etnisiteit, saam in ‘n skoon, veilige en gesonde omgewing kan bly.
Stigter Nico Gerber vertel hoe dit maar moeilik was aan die begin maar ná harde werk het die organisasie tans drie voltydse werkers wat die omgewing netjies hou.
“Ons het aanvanklik die eilande en oop ruimtes by die munisipaliteit oorgeneem en begin skoonmaak om die gemors en vullis op te ruim. Ons het druk geplaas op Parke maar dit was maar ‘n gesukkel,” sê Gerber.
Die bestuurspan bestaan uit vyf heeltydse werkers wat aan die begin hul Woensdae en Saterdae opgeoffer het. “Ek kon nie langer die verval in ons eens pragtige Pellissier vat nie. Ek werk in die middestad en dit het my moedeloos gemaak om van een vullishoop na die ander te ry,” sê Gerber.
Volgens hom skep dit nou nie net ‘n mooi beeld nie, maar dit is ‘n plesier om in Pellissier rond te ry in vergelyking met ander areas.
Lede van die gemeenskap wat deel wil wees van die organisasie, kan ‘n boodskap stuur na 060 724 3209 of ‘n e-pos stuur na [email protected].
Pierce van Heerden







