Nog ’n Vrystater rig Blitsbokke af

0
842

GEORG VAN ECK

Nog ’n Vrystater en hierdie keer ’n oud-Tralie van Bloemfontein is die nuwe hoofafrigter van die Blitsbokke, Suid-Afrika se sewesrugbyspan.

Neil Powell, ’n voormalige kaptein van die Blitsbokke, het die leisels by Paul True as nasionale breier oorgeneem en het sy eerste vuurdoop die afgelope naweek met die Blitsbokke op die Gold Coast in Australië gehad.

Die 35-jarige Powell is die tweede Vrystater wat die eer te beurt val. Gysie Pienaar, oud-Springbok-heelagter van die Vrystaat, het die Blitsbokke in die jare 90 afgerig. Spelers soos Ruben Kruger en Joost van der Westhuizen het onder sy leiding op die voorgrond getree.

Powell het in sy rugbyloopbaan onder meer ook vir die Cats en Sharks in Super Rugby uitgedraf, terwyl hy Curriebeker-rugby vir die Toyota Vrystaat Cheetahs, GWK Griekwas en Blou Bulle gespeel het.

As Bok-sewesspeler het hy in 32 toernooie vir die Blitsbokke in die Internasionale Rugbybyraad se Wêreldreeks uitgedraf en gehelp om ’n bronsmedalje op die Olimpiese Spele te verwerf.

Een van die bekendste oud-leerlinge van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein is Nelie Smith. Die oud-Springbokkaptein en -skrumskakel is ook ’n vermaarde afrigter en die oud-Tralie was in beheer toe die Vrystaat die eerste keer die Curriebeker in 1976 verower het.

Powell sal as hulpafrigter deur Vuyo Zangqa bygestaan word. Zangqa is ’n oud-speler wat vir die Grens Bulhonde en Luiperds uitgedraf het. Hy het ook in 19 toernooi vir die Bitsbokke gespeel waar hy in van die toernooie ’n spanmaat van Powell was.