Vrystaters gaan in Amerika tennis speel

0
1811

Twee Vrystaatse tennisspelers tel onder die vier Suid-Afrikaners, wat hul land in Desember in die Nike Junior Reeks se Internasionale Meesterstoernooi in Florida, Amerika sal verteenwoordig.

Linge Steenkamp en Joubert Klopper van die Vrystaat het onderskeidelik die o.12- enkelspeltitels vir meisies en seuns in die Nike Junior Reeks se Suid-Afrikaanse Meestertoernooi vir kampioene in Potchefstroom verower.

Die Suid-Afrikaanse top agt spelers het in die o.12 en o.14 ouderdomsgroepe het op die bane van die Riaan Venter Akademie op die kampus van die Noordwes Universiteit (Pukke) meegeding om vir die toernooi in Amerika te kwalifiseer.

Die ander twee spelers, wat in Amerika gaan speel, is Zani Barnard van Noord-Gauteng, wat die o.14-titel vir meisies verower het, terwyl Richard Thongoana van Sentraal as die o.14 seunskampioen gekroon is.

In die eindstryd om die o.12-titel vir meisies moes die vierde gekeurde Linge Steenkamp van die Oranje Meisieskool in Bloemfontein verbete terugveg om om die gunsteling Lara van der Merwe in drie stelle te klop. Van der Merwe het 2-6, 2-4 voorgeloop toe die Vrystater haar taktiek verander het deur meer aanvallend te speel. Dit het vrugte afgewerp, want sy het die oorhand gekry deur Van der Merwe 2-6, 6-4 en 6-4 te klop.

’n Vasberade Joubert Klopper van Grey Kollege het as eerste gekeurde vanuit die staanspoor ’n greep in die eindstryd vir seuns o.12 verkry om met 6-0, 6-3 teen die tweede gekeurde William Wilson van Noord-Gauteng te seëvier. “Ek was baie bly om te wen. William is ’n goeie vriend en ’n sterk mededinger. Ons het mekaar al om die beurt geklop. Ek het hom egter in ons drie vorige kragmetings geklop,” het Klopper ná die wedstryd gesê.

Uitslae van die ander eindstryde:
Seuns o.14: (1) Richard Thongoana (SG) k (5) Lance-Pierre du Tot (Bol) 6-2, 6-4. Meisies o.14: (1) Zani Barnard (GN) k Lee Barnard (NG) 6-2, 6-2. – BLDGROUP