GEORG VAN ECK
Die voorste sportlui van die Vrystaat word weer aanstaande maand op die Vrystaatse Sportmedia se banket vereer.
Die gewilde banket vind vanjaar in die vertoonlokaal van Imperial Motors in Kerkstraat, Bloemfontein plaas met Christie Hansen die seremoniemeester.
Die spreker op vanjaar se banket is die wêreldbekende dr. Sherylle Calder, ’n oud Vrystater, wat met haar afrigting en kennis van die ontwikkeling van sportlui se visuele vaardighede, wat die koördinasie van hand-oog en voet-oog asook liggaamkoördinasie insluit, groot sukses behaal het.
As ’n wetenskaplike, sportvrou en afrigter het sy reeds internasionale sportspanne van oor die wêreld gehelp en ontwikkel. Onder die individuele sportlui wat by haar metodes, oefeninge en afrigting gebaat het, is Ernie Els, Bryan Habana en Jonny Wilkinson.
Soos gebruiklik sal die Vrystaatse Sportster van die Jaar aangewys word op die banket, wat deur SA Brouerye, Distell, en ander onderneminge en besighede geborg word.
Vrystaat se Sportvrou en –man en verskeie ander toekennings aan die voorste gestremde sportlui asook die top juniors van die Vrystaat sal gemaak word.
Sportliggame, -verenigings, skole en individue mag nou junior sportlui vir die gesogte junior toekennings benoem. Die vereistes vir ’n suksesvolle benoeming is dat die benoemde vanjaar minstens op provinsiale, nasionale en selfs internasionale vlak presteer het.
Stuur alle benoemings per e-pos met die genomineerde se CV na rufusbotha@gmail.com