E Copy

Date:

‘n Passasiersbus in Goudveld-betogings aan die brand gesteek

Die polisie in die Vrystaat het bevestig dat ‘n passasiersbus van ‘n bekende nasionale maatskappy gisteraand op die R30 by Allanridge naby Welkom deur betogers aan die brand gesteek is. ‘n Polisievoertuig is ook beskadig toe dit met onder meer klippe bestook is.

Betogings het gisteroggend uitgebreek toe ontevrede mense, waaronder skoolkinders, paaie by Thabong met brandende bande, klippe en ander voorwerpe soos boomstompe versper het. Hulle is na bewering ontevrede oor té min werksgeleenthede by myne in die Goudveld.

Polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, sê dié betogings het later na Odendaalsrus en die middestad van Welkom versprei. Verskeie winkels wat aan buitelanders in Thabong en Odendaalsrus behoort, is geplunder, terwyl winkeleienaars in Welkom noodgedwonge hul deure moes sluit.

Betogers het gisteraand voortgegaan en verkeer op die R30 ontwrig. Dié passasiersbus is omstreeks 22:00 op die R30 voorgekeer en toe aan die brand gesteek.

Volgens Makhele het  passasiers die bus vinnig ontruim. Sommiges het ligte beserings opgedoen nadat hulle glo deur die betogers rondgestamp en beroof is. Van die passasiers het verklarings by die Allanridge-polisiekantoor afgelê. Makhele kan in die stadium nie bevestig hoeveel klagte van roof aanhangig gemaak is nie.

Die situasie by die township in Allanridge is vanoggend steeds gespanne en word deur die polisie gemonitor.  Dit is egter tans kalm in Thabong en Welkom.

Intussen sê Makhele nog niemand is in hegtenis geneem nie in verband met ‘n voorval waarin twee joernaliste van OFM-nuus, wat gister wou verslag doen, in hul motor met OFM-nuus handelsmerke op, aangeval en beroof is. Mark Steenbok en Josca Human is fisiek ongedeerd maar is steeds getraumatiseerd nadat ‘n groep betogers die motor omsingel het. Dit kom nadat ‘n man met hul aankoms in Thabong op die motor afgestorm het en die motorsleutel deur ‘n oop motorruit gevat het. In ‘n oogwink het nog betogers op die motor toegesak. Hulle wou die joernaliste uit die motor dwing, maar kon nie daarin slaag nie omdat Steenbok en Human se veiligheidsgordels vasgegespe was.

Die booswigte het die motor se deure en kattebak oopgemaak op soek na waardevolle artikels. Kameratoerusting, ‘n bandopnemer, selfone en Human se handsak is gevat. Steenbok kon in die proses daarin slaag om die motorsleutels terug te gryp en na die naaste polisiekantoor te jaag.

Jana Roos 

 

Share post:

Popular

More like this
Related

Ex-boyfriend sentenced for femicide

A 32-year-old Ficksburg man has been sentenced to 24...

ADVERTORIAL: Thuso Milling Vacancy – Production Manager

Thuso Feeds, a successful feed mill in Bothaville, requires...

Women’s Day exhibition explores history and hope

Oliewenhuis Art Museum and the National Museum have joined...

Community to honour Itumeleng “Itu” Marema at candlelight memorial

Friends, family and supporters of local musician Itumeleng “Itu”...