‘My seun gaan opstaan’

0
2493
Jeremy Barnard in sy hospitaalbed.

Die ma van ‘n jong man wat Sondag in die vroeë oggendure in ‘n tref-en-trapongeluk in die middestad van Bloemfontein ernstige beserings opgedoen het, glo onwrikbaar dat haar seun binnekort perdfris en gesond uit die hospitaal gaan stap.

Jeremy Barnard (20), ‘n blokman van die stad, is Sondagoggend om ongeveer 01:00, presies ‘n maand voor sy 21ste verjaardag, op die hoek van Nelson Mandelarylaan en Parfittlaan deur die bestuurder van ‘n bakkie van sy motorfiets gestamp. Die bestuurder van die bakkie het na bewering na die ongeluk van die toneel weggejaag.

Jeremy se ma, Rouve Barnard, eienares van ‘n bekende bakkery in die stad, het gister van die hospitaal, waar sy by haar seun se bed waak, aan Bloemfontein Courant gesê sy glo Jeremy gaan voor sy 21ste verjaardag gesond wees.

Jeremy Barnard

“Ons bly op ons knieë en daar is baie gebedsgroepe oor die land heen wat vir Jeremy se spoedige herstel bid. As Christen glo ek dat my kind weer ten volle sal herstel. As dit die einde van

sy pad was, sou God hom nie tot hiertoe gebring het nie. Hy is tydens die ongeluk soos ‘n lappop oor die enjinkap van die Isuzu-dubbelkajuitbakkie geslinger, maar hy het tot hiertoe oorleef,” sê Barnard.
Jeremy word in die Universitas-hospitaal se neurowaakeenheid behandel vir gekraakte ribbes, drukking op die brein en vloeistof in die longe. Hy het ook sewe steke aan sy ken ontvang.

“In hierdie stadium bid ons die hardste vir sy longe. Die drukking op sy brein het effens verbeter, maar die neurochirurge is bekommerd dat die vloeistof in sy longe inflammasie kan veroorsaak,” sê Barnard.

Sy het ook aan Bloemfontein Courant openbaar dat die polisie warm op die spoor is van die persoon wat haar seun van sy motorfiets gestamp het. Die verwagting is dat die verdagte vandag in hegtenis geneem gaan word.

Jeremy was egter nie die enigste Bloemfonteinse jong man wat die naweek deur ‘n soortgelyke lot getref is nie. Jason Pieters (22) is ‘n dag vroeër om min of meer dieselfde tyd en nie ver daarvandaan nie ook deur die bestuurder van ‘n wit bakkie van sy motorfiets gestamp. ‘n Video van Jason se ongeluk is intussen wyd op sosiale netwerke versprei.

Die woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, Mondli Mvambi, het aan OFM-Nuus gesê dat Jason goed aansterk in die Pelonomi-hospitaal nadat die bakkie hom Saterdagoggend omstreeks 01:20 op die hoek van Zastronstraat en Eerste Laan van sy motorfiets gestamp het. Jason het by ‘n rooi verkeerslig gewag toe hy getref is.

Jason se pa, Johan, het vroeër vandeesweek aan Netwerk24 gesê die persoon wat sy seun gestamp het, het Sondag die motorfietswrak vir die familie gebring en beweer dat Jason teen hom vasgery het. Met Bloemfontein Courant se ter perse gaan, is niemand egter nog weens die voorval in hegtenis geneem nie.

Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za