Bloem-aktrise slaan rol los in sepie

0
771
Nieke Lombard saam met die veteraan-akteur Tobie Cronjé tydens die verfilming van 'n verlengde voorskou van 'n beplande TV-reeks oor Heidi.

Plaaslike aktrise, Nieke Lombard, het pas ‘n gesogte rol losgeslaan in een van Suid-Afrika se gewildste sepies. Nieke, wat haar Honneursgraad in drama behaal het aan die Universiteit van die Vrystaat, gaan die rol speel van ‘n trouebeplanner in ‘n gewilde sepie op kykNET.

Die kykNET-sepievervaardigers het, soos gewoonlik, ‘n soektog van stapel gestuur na ‘n sekere karakter. Nieke het ‘n oudisie gedoen vir die rol en volgens haar nie gedink sy gaan dit kry nie. Maar op dieselfde dag van die oudisie het sy gehoor die rol is hare. Sy begin op 1 Julie en vertel dat sy baie opgewonde maar tog ietwat senuagtig is.

Nieke Lombard

Nieke is egter baie meer as net ‘n toekomstige sepiester. “As aktrise in Suid-Afrika, moet jy werk skep vir jouself; dit kom nie vanself na jou toe nie.” En dis presies wat sy gedoen het toe sy, byna twee jaar gelede, besluit het om die idee van ‘n volwasse Heidi as ‘n TV-reeks te ontwikkel. Ja, daardie Heidi wat ons almal onthou as een van ons geliefde TV-karakters as kinders. Met haar navorsing het sy uitgevind dat die Switserse skrywer, Johanna Spyri, dood is na haar heel eerste kinderboek. Haar vertaler het toe die reeks hervat en ‘n reeks boeke geskryf waar Heidi grootword en onder meer met Peter trou (is dit regtig ‘n verrassing?).

Nieke wou spesifiek haar Heidi in ‘n kontemporêre, Suid-Afrikaanse konteks plaas en het besluit om verder met die projek te gaan. Tobie Cronjé het haar eenkeer op verhoog gesien, en was so ingenome met haar dat hy aangebied het om een dag saam met haar te werk. Sy het hom genader en hy het haar aangemoedig om nòg groter te gaan met die idee. En dis waar die idee dan vir ‘n twaalf-episode-TV-reeks (met vier seisoene) oor ‘n volwasse Heidi in ‘n moderne, plaaslike konteks gebore is.

Wat hierdie projek anders maak as gewone TV-reekse is dat dit nie deur plaaslike TV-kanale befonds word nie. Al die kapitaal word privaat ingesamel. Die belangrikste gevolg hiervan is dat Nieke, as skepper, al die regte tot die reeks behou. Met behulp van die plaaslike produksiemaatskappy, Rooistoel, het hulle ‘n “sizzler” (‘n verlengde voorskou) geskiet. Dit gaan nou op Thundafund.com, Suid-Afrika se vernaamste webwerf vir groepfinansiering geplaas word sodat Nieke nòg meer fondse kan insamel om die projek te voltooi.

Hierdie is natuurlik nie haar eerste probeerslag wanneer dit by skryf kom nie. Sy het al twee kortfilms en ‘n verhoogstuk geskryf. Hoewel die “prentjies sterk in haar kop is”, besef Nieke sy sal mede-skrywers moet kry om ‘n sukses van hierdie groot projek te maak.

Vernon Baumann
info@bloemfonteincourant.co.za