Die langasem-steratleet van Bloemfontein, Louzanne Coetzee, is opgewonde en slaggereed vir die 2024 Paralimpiese Spele wat vandeesweek in Parys, Frankryk, begin het.
Coetzee, die blinde middelafstand- en marathonatleet, neem vanjaar vir ‘n derde keer aan die Paralimpiese Spele deel. Sy het voorheen in Rio de Janeiro, BrasiliĆ«, asook in Tokio, Japan, vir Suid-Afrika op die Spele verteenwoordig.
Dit was in Japan waar Coetzee haar sterstatus verdien het toe sy die silwer medalje in die T11 1500m saam met haar swaer, Estean Badenhorst, losgehardloop het. ‘n Paar dae later het sy ook die brons medalje in die T11 marathon gewen. In diĆ© marathon was Claus Kempen haar gids gewees. Badenhorst, asook Kempen, is vanjaar weer haar gidse en dit is beide se tweede deelname aan die Spele.
Coetzee het aan Bloemfontein Courant gesĆŖ hulle is slaggereed en opwinding heers voordat die verskeie kompetisies Donderdagoggend begin.
“Op die oomblik is daar ‘n groot gegons en almal is opgewonde. Hulle doen regtig baie moeite om dit aangenaam te maak vir almal, met musiekgroepe wat optree en ander vermaak. Dit is regtig ‘n wonderlike atmosfeer.
“Ek was voorheen in Parys en dit was regtig goed vir my. Ek het al voorheen ‘n persoonlike beste tyd gehardloop en ek het verlede jaar ook die silwer medalje by die WĆŖreldkampioenskappe hier gewen.”
Hoewel Coetzee drie jaar gelede uitstekend in Tokio gevaar het, erken sy dat dit vanjaar nie so maklik in Parys gaan wees nie, maar sy is gereed vir die uitdaging.
“Dit gaan ‘n baie sterk 1500m-wedloop wees. Ons het die goue, silwer en brons medaljewenners van die laaste drie wĆŖreldkampioenskappe en die Tokio Paralimpiese Spele in die wedloop.
“Ons het ook die laaste twee wĆŖreldrekordhouers in die wedloop, so ek dink die 1500m gaan baie mededingend wees. Met dit gesĆŖ, ek sien baie daarna uit en is baie opgewonde.
“Ek is net gretig om Suid-Afrika te verteenwoordig en Sentraal-Suid-Afrika met trots te verteenwoordig. Dit is altyd wonderlik om te hardloop en ek kan nie meer wag nie.”
Coetzee sal Sondagoggend om 10:10 aantree vir die T11 1500m-uitdunne, en die finaal sal Maandagoggend om dieselde tyd plaasvind. – MORGAN PIEK







