Die Toyota Cheetahs benader Vrydag se Curriebeker-buurstryd teen die Suzuki Griekwas in Kimberley soos ‘n uitspeelwedstryd. Die Cheetahs moet Vrydag weer op die wenpad klim om hul halfeindstrydkanse lewend te hou ná agtereenvolgende nederlae teen die Sharks en die Lions in Bloemfontein.
Die Pumas blaas in die Cheetahs se nek en ‘n nederlaag dié week sal die span van Nelspruit in ‘n sterk posisie plaas vir die uitklopwedstryd, hoewel hulle volgende week tuis speel teen die Blikore.
Die voormalige Pumas- en Lions-haker, Corné Fourie, wat die afgelope klompie wedstryd vir Cheetahs in die nommer twee trui begin het, het aan Bloemfontein Courant gesê die belangrikste ding is om na die volgende fase deur te dring en om dit te doen is dit belangrik om by die proses te hou.
“Dit maak nie saak wat die situasie is nie, al is dit ronde een, jy fokus altyd op die proses en nie die doelwit nie,” het die gesoute haker gesê.
“So, om ‘n tuis-halfeindstryd te hê sou wonderlik gewees het. Dit is egter nou van die kaarte af. Hoewel jy nooit weet wat in die komende week gaan gebeur nie, bly die proses die proses. Ons wil net onder die topvier eindig – die halfeindronde, en vir ons as ‘n span om by die beker te kom is dit die belangrikste deel.”
Fourie, wat al vantevore vir Gloucester in England en die Panasonic Wild Knights in Japan uitgedraf het, is van mening dat die Curriebeker ‘n baie belangrike plek in Suid-Afrikaanse rugby het.
“Daar is ‘n rede waarom dit die wêreld se oudste plaaslike kompetisie is, want dit beteken so baie. Ek dink as jy nie die Curriebeker het nie, sal jy nie die teelaarde hê wat Suid-Afrika tans het nie,” het Fourie bygevoeg.
“As jy na die Springbokke kyk – die diepte wat geskep word – elke ou daar het deur die Curriebeker-linies gekom en het sy naam in die kompetisie gemaak.
“As ek terugkyk na die foto’s, kan ek onthou dat ek in 2006 in die stadion was toe die Cheetahs die Curriebeker gewen het. My eerste ondervinding om rugby te kyk was in 1993 op Loftus waar ek die Bulle gekyk het, en dit was Curriebeker-rugby wat jy as kind wou kyk. Dit het oor na internasionale rugby gegaan en ek dink dit is waar die liefde vir die spel vandaan kom.”
Vrydag se buurstryd by die Suzuki-stadion in die Diamantstad skop om 15:00 af. – MORGAN PIEK







