Kovsies pleeg ‘kuikenmoord’ teen UCT

0
1177

RUFUS BOTHA 

Die Kovsies se netbalspan het Maandag in die Callie Human-saal op die Kovsiekampus spreekwoordelik kuikenmoord gepleeg in hul Varsitybeker-wedstryd teen die Universiteit van Kaapstad (Ikeys). Die Kovsies het hul hoogste telling aangeteken sedert die ontstaan van dié kompetisie toe hulle met 91 – 19 met Ikeys afgereken het.

Kovsies se Lefébre Rademan, wat as hulpdoel en senter vir dié wedstryd ingespan is, met die bynaam "Kuiken", was op haar stukke en het veral beïndruk met haar doele as hulpdoel. Heelparty van haar 19 doele was langafstand-doelpogings.

Sy is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys.

Die Kovsies se afrigter, Burta de Kock, het die wedstryd sonder twee van haar staatmakers, Lauren-Lee Christians (besering) en Danelle Willemse (studieverpligtinge), aangepak, maar sy het die geleentheid goed gebruik om spelers uit te toets in ongewone posisies.

Een hiervan was Tanya Mostert (verdedigende vleuel) wat op senter uitgedraf het. En, dit wás suksesvol. Mostert was oral op die baan en haar voorgevoel was iets om te aanskou. Sy het goeie diens van haar suster en kaptein, Karla (Mostert, hulpdoelverdediger), ontvang wat nie 'n voet verkeerd gesit het nie.

Ikeys het verward voorgekom en hul ongedwonge foute het hulle duur te staan gekom. Hulle kon eers ná tien minute se spel hul eerste doel aanteken en toe het die Kovsies reeds 13 doele behaal.

Rademan en Rieze Straueli (hoofdoel) het die Kovsies se tellinghouers besig gehou en het ná die eerste kwart 20 – 3 voorgeloop. 

In die tweede kwart het De Kock heelparty posisionele skuiwe gemaak en 'n paar spelers van die reserwebank af ingespan. Dit het egter nie die vaart en akkuraatheid van die tuisspan gedemp nie en die spanne het halftyd gaan rus met Kovsies reeds buite bereik (39 – 5) van die besoekers.

De Kock het in die derde kwart die meeste proefnemings gedoen met spelers wat in posisies buite hul gemaksone aangewend is, en weer eens het dit nié die Kovsies se ritme versteur nie. Dit was reeds hier waar Rademan haar goed van haar taak gekwyt het op senter. Na dié kwart het die Kovsies 67 doele agter hul naam gehad en UCT slegs tien.

In die laaste kwart was kaptein Karla Mostert op haar beste. Sy was uitmuntend en het die Kovsies gereeld en vinnig op die aanval geplaas om dié kwart met 24 – 9 te wen en die eindtelling op die Kovsies se rekordtelling (91 – 19) te staan laat kom.

Die Kovsies se tweede hoogste telling was 89 doele teen die einste Ikeys (2013) en hulle het verlede week teen die Vaaldriehoek Universiteit vir Tegnologie (VUT) ook 89 doele gesink. 

De Kock het ná die wedstryd aan Courant gesê: "Ons het baie spelers uit posisie gespeel en ek is tevrede met die wyse waarop hulle aangepas het. Die rede hiervoor is dat dit nie as skok sou kom as iemand later in die kompetisie besering opdoen en ons noodgedwonge ongewone posisionele skuif moet maak nie."