Bloemfontein – Die Kovsies se eerste manshokkiespan het Saterdag op sy tuisveld die Noordwes Universtiteit (Pukke) ‘n hokkieles gegee wat laasgenoemde lank gaan onthou. Kovsies het dié wedstryd met 4 – 2 gewen, maar dit is nié die telling wat lank onthou sal word nie – dit was die wyse waarop die Kovsies doele aangeteken het.
Gedurende die eerste 10 minute het die Kovsies swak posisionele spel opgedis, maar selfs toe die Pukke meeste van die aanvalswerk gedoen het, was die Kovsies goed genoeg om die doelhok na slegs sewe minute te tref. Braam van Wyk (Kovsies se afrigter) het vroeg reeds ‘n paar skuiwe gemaak en dit het die deurslag gegee.
Die eerste doel wat Berné Burger aangeteken het was ‘n rughandveeghou- (reverse stick) doel wat soos ‘n missiel die agterkant van die doelhok getref het. Kort daarna het die Pukke se Jody Hoskins die Kovsie-verdediging oopgevlek om met ‘n gelykmaker te tref. Hoskins was die enigste Puk-speler wat in die ganse wedstryd so dan en wan die Kovsies ‘n wind laat sluk het. Na 18 minute in die eerste helfde het die Kovsies ‘n uitstekende aanval oor die hele veld heen met puik aangeë geloods.
Michael (Smiley) Manuel het daarna met netjiese afronding Kovsies 2 – 1 laat voorloop. Die eerste korthoek van die westryd het vier minute voor rustyd Kovsies se kant toe gekom en Dylan Swanepoel het die doelhok getref. Die tweede helfte het flou begin en albei spanne het te veel gebruik gemaak van doellose deur-die-lug-aangeë. Die Kovsies het ook met onnodige trurat-aangeë vorendag gekom wat bykans op ‘n steeldoel vir die Pukke uitgeloop het.
Gelukkig was die Kovsies doelwagter, Rogan Jones, deurgaans ‘n meester en het tot die Kovsies se redding gekom. Die alarm het gelui en die kaptein van die Kovsies, Brett Walraven, het met puik spel die voorbeeld gestel. Na nege minute Jaco Fourie ‘n puik aangee vir Berné Burger gevoer. Burger het geen fout gemaak nie en uit ‘n fyn hoek die vierde doel van die Kovsies agter sy naam geskryf. Met sewe minute voor eindfluitjietyd is die Pukke van ‘n korthoek af beloon met ‘n doel, net om terug te keer Potchefstroom toe met die genoemde loesing van 4 – 2.
Die Kovsies se eerste-vrouespan het gelykop (1 – 1) gespeel teen ‘n vasberade Pukke-span. Kovsies het in die eerste helfte bloed geruik toe Cornel Botha die eerste doel aangeteken het.
Pukke het danksy ‘n doel van Celia Evans in die tweede helfde die skaal gelykgetrek.
Die Suid-Afrikaanse hokkielegende wat Suid-Afrika ondermeer by die Olimpiese-spele in Athene (2004) verteenwoordig het, Graham Clarke, was by die bogenoemde wedstryde.
Bloemfontein Courant het hom gepols oor wie hom met goeie spel beïndruk het. Hy het nie gehuiwer om te sê dat die Kovsies se doelwagter, Rogan Jones, Jaco Fourie en Berné Burger skitterend onder die mans was nie.
Hy het ook Tanya Brits, Nicole Walraven en Minjon van Tonder uitgesonder as skitterende Kovsies-vrouespelers.







