Bloemfontein – Dit grens aan ongelooflik hoe die hoër meisieskool Oranje en Eunice se hokkiespanne hoogty vier in die Suid-Vrystaat (SVS). Dit is duidelik as jy gaan kyk na die hoeveelheid spelers wat dié twee skole in die onder 14-, 16- en 18A-spanne opgelewer het wat die SVS by die onderskeidelike tussenprovinsiale toernooie gedurende die Julie-skoolvakansie gaan verteenwoordig.
Dit het nie as ‘n verrassing gekom dat Oranje ses en Eunice vyf van die 16 lede van die SVS onder 18-span het nie. Oranje is volgens die skolesport-webtuiste SA Schools Sport die beste onder 18-meisieskolehokkiespan in Suid-Afrika. Eunice is boonop tweede op dié ranglys wat 18 Junie bekendgestel is.
Die Oranje-meisies het in April reeds getoon dat hulle een van die voorste kragte in Suid-Afrikaanse onder 18-meisieshokkiespanne is toe hulle die All Girls Festival in Port Elizabeth op ‘n drafstap gewen het. Dit sluit ‘n oorwinning van 2 – 0 oor Eunice in die eindronde in. Oranje se voorslagdoelskieter, Antoinette Louw, het die meeste doele by dié toernooi aangeteken.
Die St. Michael-skool vir meisies in Bloemfontein kan trots wees met die drie lede wat in die SVS onder 18A-span ingesluit is. Jim Fouché en Fichardtpark het elk slegs een speler in die span. Die onder 18-span speel in Durban. Die SVS onder 16 A-span, wat in Pietermaritzburg koppe stamp is ‘n nóg groter pluimpie vir Oranje en Eunice.
Oranje het nie minder nie as nege verteenwoordigers in dié span van 16 en Eunice ses. St. Michael het een speler in die span, wat verhoed dat dit uitsluitlik ‘n Oranje/Eunice-verteenwoordigende span is. Gaan jy die spanlys verder deur, is die SVS onder 14-span wat in George in aksie gaan wees, uniek.
Slegs spelers uit Oranje- en Eunice-geledere is in dié span opgeneem met Oranje wéér aan die voorpunt. Oranje het nege spelers en Eunice sewe wat hier die SVS gaan verteenwoordig. Hokkie-wiskunde bepaal dat 50% van die drie genoemde SVS A-spanne uit spelers van Oranje bestaan en bykans 38% uit Eunice.
Die SVS A-spanne is: Onder 18: Elzani van Aswegen, Jana Greeff, Esté van Schalkwyk, Priscilla Esterhuize, Antonet Louw, Mirie van Niekerk (almal Oranje), Chané Hartel, Heraldine Olin, Marizen Marais, Jessica Charles, Ashley Datnow (almal Eunice), Shindré-Lee Simmons, Aisha Dupli, Oni Tikane (almal St. Michael), Janke Kotzé (Jim Fouché) en Nadia van Staden (Fichardtpark).
Onder 16: Minke van Heerden, Frances Louw, Marli van Deventer, Sonika van Heerden, Lizanne Jacobs, Charlize Hugo, Simoné Gouws, Carisa Swanepoel, Nicole Moss (almal Oranje), Nicole Kruger, Wiané Grobler, Casey-Jean Botha, Bonolo Lechoano, Kayla Barker, Kananelo Ramongalo (almal Eunice), Fifi Ralikontsani (St. Michaels). Onder 14: Charné Smit, Carla Theunissen, Mikaela Claasen, Carine Jacobs, Kailah Ferreira, Jacomien McClaren, Saré Loubser, Mandisa Maphisa, Deidré Jonker (almal Oranje), Melinda Reinecke, Katherine van der Merwe, Natasha Slater, Izanne Louw, Adle Coetzee, Yonique Jospehus, Michelle Dykman (almal Eunice).







