Bloemfontein – Die Kovsies se mans- en vrouehokkiespanne het een van hulle beste seisoene in etlike jare beleef en dit Saterdag onderstreep toe albei dié spanne gekroon is as Vrystaatkampioene.
Die Kovsies se manne het Saterdag sy 12de agtereenvolgende Vrystaatkroon losgespeel toe hulle die span van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) ‘n hokkieles geleer het wat nog lank in laasgenoemde se kop gaan maal. Die Kovsies het die SUT met ‘n reusetelling van 9 – 2 verslaan.
Kovsies het onder die waaksame oog van Braam van Wyk (afrigter) hulle 2014-krag tentoongestel toe dié 11-tal vir die eerste keer in meer as 30 jaar die bronsmedalje by die Suid-Afrikaanse Universiteite (USSA) toernooi gebuit het.
Onder die vroue het die Kovsies nie noemenswaardige teenstand in die provinsie nie en het hulle eerstespan Saterdag in die Vrystaatse eindstryd met die Kovsies se naasbestes kragte gemeet. Die Kovsies se eerstes het hulle tweedespan (Reds) met 10 – 1 afgeslag.
Die afrigter van die Kovsies se vroue-eerstespan, Jacques du Toit, het sy uittrede na drie puik jare aan die stuur aangekondig.
Sedert hy in 2012 die leisels oorgeneem het, het die Kovsies ‘n goeie opwaartse kurwe beleef. In die einste 2012 het hulle vir die eerste keer sedert 1993 onder die voorste vier spanne by die USSA-toernooi geëindig.
In 2013 het Du Toit hulle gebrei tot wéér ‘n top-4 plek by die USSA-toernooi en hulle het ook die bronsmedalje in die sak gesteek by die gesogte VarsitySport-toernooi vir vroue.
Du Toit het getoon dat 2012 en 2013 geen gelukskoot was nie en die Kovsies verower vanjaar die bronsmedalje by USSA se toernooi toe hulle die Universiteit van Johannesburg (UJ) geklop het. Dit was die eerste keer sedert 1984 dat die Kovsies se vroue ‘n medalje gewen het by USSA.







