Kontant is nie koning

0
1338

Ons gesels die laaste tyd weer baie oor beleggingsopbrengste wat al amper vir drie jaar maar redelik power lyk. Soos gewoonlik, het die versoeking om tydelik na kontant te skuif beleggers behoorlik beet, en baie beleggers het dit ook reeds gedoen. Kontantopbrengste lyk tans ook nie te sleg in vergelyking met markverwante beleggings se opbrengste nie, dus kan mens ook nie dié wat na kontant skuif, kwalik neem nie. Beleggingsadviseurs sal altyd hul kliënte aanraai om nie tydens swak marktoestande drastiese skuiwe te maak nie; om ‘n skuif na kontant nie eens te noem nie.
Die rede hoekom die advies baie relevant is, is omdat niemand van ons weet wanneer markte positief of negatief gaan draai nie en jy gaan altyd té laat of té vroeg na kontant skuif, en opbrengste prys gee. Niemand het die vermoë om die mark te “time” nie. Ek het onlangs data teëgekom wat kan bewys dat skuiwe na kontant tot jou nadeel is (ten spyte van die gemoedsrus wat dit jou bied).
Morningstar het die navorsing hieroor gaan doen. Hier is die resultate: Sedert 1995 tot 2016 was markte oop vir 5 264 dae. Indien jy vir die volle
5 264 dae in jou markverwante belegging belê was, sou jou opbrengs oor die periode 15.1% per jaar beloop het. Indien jy slegs die beste 25 dae uit die 5 264 dae gemis het (omdat jy dit in kontant oorgesit het), sou jou opbrengs oor die periode af gekom het na 8.2% per jaar. Sou jy die beste 50 dae uit die 5 264 dae gemis het, sou jou opbrengs verder gedaal het na 3.7% per jaar, en indien jy die beste 75 dae gemis het kom jou opbrengs af na 0.0%.
Dan laastens, indien jy die beste 100 dae uit 5 264 dae (dit is slegs 1.9% van al die dae) gemis het, sou jou opbrengs vanaf 1995 tot 2016 ‘n skamele -3.3% gewees het. Anders gestel, indien jy die beste 1.9% dae in die mark gemis het, sou jy 18.4% per jaar minder verdien het as die belegger wat die volle
5 264 dae in sy markverwante belegging belê was. Uit bogenoemde lyk dit dus of kontant eerder jou grootste vyand kan wees. Ek het nog syfers wat aandui hoekom dit nie wys is om na kontant te skuif nie. Stuur gerus vir my ‘n e-pos na horace@nassaux.com en ek stuur dit vir jou aan. – Horace Terry
horace@nassaux.com