Bloemfontein se Kesa Moletsane sal Sondag weer in aksie wees tydens die Cape Town 12K Cityrun waar sy sterk teenstand kan verwag van Lesotho se Neheng Khatala.
Terwyl die twee dames na verwagting kop aan kop sal hardloop, sal die staatmaker van padwedlope in Suid-Afrika, Glenrose Xaba, ook aan die beurt wees.
As die Durban 10K Cityrun enigsins in ag geneem word, sal hierdie wedloop inderdaad ‘n watertand-vooruitsig wees.
Molotsane is reeds geruime tyd nie in haar beste vorm nie, maar dit blyk asof sy besig is om haar vorm terug te kry; dit ten spyte daarvan dat sy voltyds by die Universiteit van die Vrystaat werk.
Molotsane het op 31 Oktober algeheel derde geëindig by die Durban 10K Cityrun, en het onlangs die silwermedalje in die SA 10k-kampioenskap ingepalm.
Neheng Khatala, wat algeheel tweede geëindig het, het nie vir medaljes of prysgeld van die Kampioenskap in aanmerking gekom nie.
Ná moeilike tye was Molotsane verheug met haar wedloop in Durban, veral omdat sy ‘n nuwe persoonlike beste tyd gehardloop het.
“Dit was ‘n rowwe tyd en dit was moeilik om terug te kom aangesien ek voltyds werk. Om met ‘n nuwe persoonlike beste tyd in 32:51 die 10K klaar te maak, was iets wat ek nie verwag het nie, en ek is baie bly daaroor.”
Molotsane het in al ses Spar Vroue Grand Prix-wedlope meegeding oor ‘n tydperk van agt weke, ‘n prestasie wat weliswaar sy tol op haar liggaam geëis het. Haar vreugde oor die nuwe persoonlike beste tyd, is dus te verstane.
“Ek het dit nie verwag nie. Dit was moeilik om in die Grand Prix-reeks te hardloop. Maar ek kom weer in vorm. Ek het dit tydens die reeks gesien, en ek voel weer soos my ou self.”
In Durban het Tayla Kavanagh die verrigtinge oorheers; sy sal egter nie vandeesweek in die Moederstad in aksie wees nie. Moletsane, Xaba en Khatala word beskou as die gunstelinge om die podium te haal. – MORGAN PIEK







