Kovsies wen weer eens VS-hokkieliga

0
386
FOTO: FACEBOOK

Die Universiteit van die Vrystaat Kovies het vir die 14de agtereenvolgende keer koning gekraai in die Vrystaat-hokkieliga.

Albei die mans- en vrouespanne het die ligatitel om hoog gehou nadat hulle hul afsonderlike kompetitisies gewen het.

Die Kovises “Blues” het in die eindstryd, wat op die astroveld by St Michael’s Schools gespeel is, die span van Tweespruit met 3-0 getroef.

In 2019 het dié span St Patrick’s CBC (Christian Brothers’ College) van Kimberley met 4-3 geklop om die liga te wen. Verlede jaar is geen ligawedstryde gespeel nie weens die Covid-19-pandemie.

In die halfeindstryd het die Blues die Kovsies “Reds” met 5 – 1 laat les opsê, terwyl Tweespruit op hul beurt die Sentrale Universiteit vir Tegnologie met 2 – 0 geklop het.

Die Kovsies Reds-vrouespan het ‘n week vantevore Brebnarians met 3 – 0 in die eindstryd geklop. In 2019 het albei dié spanne ook aan die eindstryd deelgeneem en Kovsies het 7 – 0 met hul teenstanders afgereken.

Volgens Braam van Wyk, die hoëprestasie-hoofafrigter en astrobestuurder by die UV, was dit nóg ‘n strawwe jaar vir hulle en was daar baie druk op spelers.

“Dit was ‘n moeilike jaar en daar was altyd druk op ons om dinge in die liga aan die gang te hou. Ek is bly ons het gewen. Ons is al lank besig, sedert Februarie, en daar was baie onsekerheid.

“Die spelers kon maklik hul intensiteit en fokus verloor het, maar hulle het nie. Hulle het deurgedruk en volgehou.”

Intussen is Saré Laubscher van Kovsies insluit in die Suid-Afrikaanse o.21-span wat in Desember in Potchefstroom gaan deelnaam aan die FIH Junior Hokkie-wêreldbeker.

Die oud-Kovsie, Zimkhitha Weston, sal ook in die Wêreldbeker speel, terwyl die breier van die Kovsies se vrouespan, Luke Makeleni, aangewys is as hulpafrigter van die SA o.21-span.

Suid-Afika is in Groep D vir die toernooi, saam met Duitsland, Spanje en die VSA. Die Wêreldbeker word van 5 tot 16 Desember by die Noordwes Universiteit beslis. – MORGAN PIEK