Saschine Cornelissen (26), talentvolle jong danser van Heidedal, kan moontlik binnekort sy danspassies in die Groot Appel uithaal.
Dit is nou as hy genoeg ondersteuning van Bloemfonteiners kan kry. Cornelissen, lid van die dansgeselskap, House of Dirty Shakers, is deur Talent Africa genooi om van 2 tot 8 April 2018 aan die plaaslike uitdunrondes van ‘n internasionale talentkompetisie by die Roodepoort-teater in Johannesburg deel te neem.
As hy op dié geleentheid die beoordelaars genoeg beïndruk, dring hy outomaties deur na die eindronde, wat van 3 tot 11 Julie 2018 in New York gehou word.
Daar is egter een struikelblok in Cornelissen se pad. As hy nie betyds genoeg geld vir sy reis- en verblyfkoste kan insamel nie, kan die geleentheid dalk deur sy vingers glip.
Zane Muller van House of Dirty Shakers, sê dit is ‘n ongelooflike groot eer dat een van hul dansers genooi is.
“Ons streef altyd daarna dat ons dansers uitblink in die solo- en groepitems waaraan hulle deelneem. Uit die aard van die saak sal ons seker maak dat Saschine gereed is om Bloemfontein en die Vrystaat se naam hoog hou met sy optrede by die kompetisie.
“Maar hy kan dit net doen as hy genoeg geldelike hulp van Bloemfonteiners kan kry. Om te kan deelneem, moet hy
R15 000 insamel, wat sy onkoste vir vervoer, akkommodasie, etes en uniform sal dek,” sê Muller.
Mense wat graag wil help om Cornelissen se droom waar te maak, kan Muller by 084-327-4061 bel.
Pieter Delport
[email protected]







