
Sharon de Kock, ‘n violis van die Odeion-strykkwartet en ook vioollektrise by die Odeion Skool van Musiek aan die Universiteit van die Vrystaat, is weer eens op pad na Meksiko om meesterklasse aan te bied.
In hierdie stadium neem De Kock se oefenwerk (viool) en DMus- studies aan die Noordwes-Universiteit al haar vrye tyd in beslag. Van ouderdom 17 af het sy studeer aan die Universiteit van Cincinnati, College-Conservatory of Music (CCM) in Amerika. Sy het haar BMus en MMus daar voltooi.
‘n Belangstelling wat De Kock na aan die hart lê, is tale. Sy het klas geneem in Frans, Italiaans, Duits, Portugees en Spaans. Tussenin wou sy graag Spaans vlot leer praat en het sy ‘n oudisie gedoen vir die Nasionale Simfonieorkes in San Jose, Costa Rica. Sy is goedgekeur en het daarheen verhuis. Ná twee jaar het sy haar studies voortgesit in CCM en saam met ‘n pianis van Cuba (Judith Fleitas) en ‘n tjellis van Meksiko (Eduardo Carpinteyro) in ‘n klaviertrio begin speel. Hulle het aan verskeie kompetisies deelgeneem en onder meer ‘n toer na Puebla, Meksiko onderneem, waarvandaan Carpinteyo afkomstig is.
De Kock sê: “Ek het verlief geraak op die land, sy mense, die kultuur, die kos, die musiek en sy tradisies. Ek het ses weke later na Puebla, Meksiko, getrek en by drie verskillende universiteite klasse aangebied. Sowat 60 ure per week se klas gee, was baie harde werk, maar die mense is so gewillig om te leer dat dit ‘n absolute plesier was.”
De Kock het in 2006, ná 11 jaar, terruggetrek Suid-Afrika toe en in 2008 ‘n pos by die UV gekry.
De Kock het aan die einde van 2016 kontak met Carpinteyro gemaak, wat nou die departementshoof van musiek is aan Benemérita Universidad Autonoma de Puebla, waar sy les gegee het. Hy het aangebied dat sy meestersklasse kan gee en ‘n concerto saam met die orkes speel. Sy het daagliks viool gegee, asook na kamermusiekgroepe geluister, orkesoefeninge bygewoon en die reaksie was so goed dat hulle haar dié jaar weer teruggenooi het.
Sy gaan aan die einde van Maart 2018 terug na Meksiko om weer meestersklasse aan te bied sowel as ‘n konsert, maar diè keer met Eduardo as tjellis en ‘n pianis wat ook sy MMus aan Cincinnati (CCM) voltooi het. Die tweede helfte van die toer gaan na Zacatlan wees, ook ‘n dorp van Pubela. Dit is ‘n pragtige bergdorpie wat gehul is in mis, met ‘n ryk musieklewe. Sy gaan die Conservatorio de Zacatlan besoek vir meesterklasse, soos in 2017.
Vir De Kock is dit belangrik om werklik ‘n verskil in iemand se lewe te maak. Om te sien hoe haar studente ‘n sukses maak van hul studies, is vir haar beslis die grootste prestasie.
De Kock sê: “Musiek is soos om ‘n storie te vertel en wanneer mense meegevoer raak met jou ‘storie’ is dit die grootste kompliment.”
Zilke Prinsloo
zilke@mahareng.co.za