‘n Oud-tradisie is Dinsdag 14 Junie hervat toe leerders van die Laer- en Hoërskool Jim Fouché kranse by die graf van wyle staatspresident Jacobus Johannes “Jim” Fouché gelê het.
Die doel van die uitstappie, wat onder meer die onderskeie skoolhoofde en die hoofleiers van Jim Fouché ingesluit het, was om eer aan oud-pesident Jim Fouché, wat op 6 Junie sy verjaardag sou vier, te bewys.
Fouché, ‘n suksesvolle boer, stoere republikein en oorspronklik van Wepener in die Vrystaat, het die rol as seremoniële staatshoof van 1968 tot 1975 vervul. Hy was die enigste staatspresident wat sy volle sewe jaar-ampstermyn (soos dit voor 1984 gegeld het) voltooi het.
Hy is oorlede op 2 Oktober 1982.
Die skoolhoof van Hoërskool Jim Fouché, Schalk Malherbe, het aan Courant vertel dat dit belangrik is vir die volgende generasie leerders om te weet waar hulle vandaan kom en waarheen hulle op pad is.
“Ons het vandag weer eens ‘n tradisie begin wat ons baie na aan die hart lê en wat ons vorentoe sal koester. Dit is belangrik vir ons leerders om die geskiedenis van hulle voorouers te ken,” sê Malherbe.
Op sy beurt sê Francois Nel (skoolhoof van Laerskool Jim Fouche) dat dit belangrik is om die goeie uit die geskiedenis te leer.
“Ons tradisie en kultuurerfenis is vir ons baie belangrik. Dit is vir ons ‘n eer om ook aan oom Jim se naam en sy geskiedenis gekoppel te wees en daardie tradisies te probeer voortsit.” – Mark Steenbok
[email protected]
Date:
Jim Fouché-leerders eer oud-staatspresident
Leerlingraad en onderwysers van Hoër- en Laerskool skool Jim Fouché het Dinsdag 'n kranslegging by oud-president Jim Fouché se graf gehou. FOTO: MARK STEENBOK







